OUDTSHOORN - Vier maande nadat Laerskool Wesbank die eerste sooi van hulle klubhuis gespit het, is dié skool se nuutgeboude klubhuis op 15 Februarie onthul.
Volgens Waldo Cloete, skoolhoof van Laerskool Wesbank was daar 'n groot behoefte vir ablusiegeriewe, veral wanneer besoekende sportspanne die skool besoek het.
Die grondvloer bestaan uit ablusiegeriewe en die boonste verdieping, wat 'n groot onthaallokaal het, is so ontwerp dat sport reg rondom, op al die sportterreine gekyk kan word.
Cloete het ook al die rolspelers bedank vir hulle bydrae om die gebou tot stand te bring. "Hierdie was 'n spanpoging van individue en ook die gemeenskap," het hy gesê.
Stephan Roeloffze, voorsitter van die beheerliggaam het ook verskeie rolspelers vir hulle bydra bedank en die vorige skoolhoof, Alwyn Hanekom, geloof vir die manier waarop hy die skool bestuur het sodat dit nou moontlik kon wees om die projek te voltooi.
Verskeie donateurs het 'n jagtog in die Karoo geborg - hierdie jagtog is nasionaal bemark en het vir 'n groot bedrag tot die bou van die klubhuis gesorg.
"Die skool het vir jare 'n finansiële buffer gebou, en 'n mens moet jouself afvra wanneer dit tyd is om terug te ploeg sodat ouers en kinders voordeel daaruit kan trek.
Ons streef om die beste laerskool in die Eden-distrik te wees vir ons ouers en kinders," het Roeloffze gesê.
Roeloffze het na Cloete as die "projek-bestuurder" verwys en hom geprys vir die visie wat hy gehad het. Ouers van toeka tot nou en verskeie rolspelers wat in die verlede, hede en toekoms 'n rol gaan speel in dié skool, is genooi om die geleentheid by te woon.
Stefan Jonker (Kango Kaste), Werner en Harold Tome (HW Tome-konstruksie), Waldo Cloete (skoolhoof van Laerskool Wesbank), Lootie Vermeulen (JL Konstruksie), Ernist Robinson (argitek) en Stephan Roeloffze (voorsitter van die beheerliggaam).
Foto’s: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'