OUDTSHOORN NUUS - Volstruisvere vanuit Oudtshoorn, uitgevoer deur Cape Karoo International se vere-afdeling het die afgelope naweek behoorlik gepronk tydens die openingsvertoning van Lady Gaga by die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk.
Lady Gaga het die verhoog betower met 'n vere-gevulde uitvoering van die ikoniese Franse liedjie, Mon Truc En Plumes (My ding met vere) deur Zizi Jeanmaire, tydens die openingseremonie op Vrydag 26 Julie.
Die pragtige vertolking is langs die Seine-rivier gehou, waar Lady Gaga in massiewe pienk verewaaiers met die trappe afgestap het.
Dior het die pasgemaakte kostuums geskep, insluitend die pienk vere, en beide Gaga en die luukse huis het bevestig dat hulle "natuurlik verwerkte vere" gebruik het om te sê dat geen voëls benadeel is in die maak van die stukke nie.
Cape Karoo International
Cape Karoo International is bekend daarvoor dat hulle die beste kwaliteit volstruispluime regoor die wêreld het. Wêreldbekende verhoogproduksies, internasionale karnavalle en feeste sowel as luukse modehuise kry almal hul topgehalte vere van Cape Karoo International.
Die groep verskaf reeds vir jare volstruisvere aan die Moulin Rouge in Parys, Frankryk vir hul mees pragtige verekostuums.
Volgens Pieter Liebenberg, hoof van Cape Karoo International se vere-afdeling, was hulle wel bewus dat die uitvoer van volstruisvere gegroei het en werk hulle baie nou saam met modehuise soos Chanel en Dior, maar het hul geensins geweet dat die modehuis besig is met 'n uitrusting vir Lady Gaga vir die openingsoptrede van die Olimpiese Spele nie.
"Ons het eers uitgevind na haar optrede, die swart en wit vere wat gebruik is, is beslis van ons af, maar die modehuis moes self die pienk vere gekleur het, want ons het nie 'n bestelling vir daardie spesifieke pienk vere vanuit Frankryk ontvang nie. Hy vertel dat hulle ook klaargemaakte modeprodukte aan buitelandse klante verskaf, soos vereboas, hooftooisels ensomeer.
"Vere is baie gewild in Frankryk en Italië en word slegs vere wat aan streng vereistes voldoen uitgevoer."
Die vere is ideaal vir interieurontwerpstukke en topgehalte stoflappe, wat 'n wye reeks gespesialiseerde industriële, teleskopiese, motor- en rekenaarstoflappe insluit. Die pragtige vere wat by Cape Karoo International vervaardig word, word gestroop en in ongelooflike bykomstighede vervaardig wat meerlaagse boas insluit.
Foto: Lady Gaga Facebook bladsy
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’