LADISMITH NUUS - Die saak teen 'n man van Ladismith, wat van handel in dwelms aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van die beskuldigde vir uitspraak uitgestel.
July Katshweni word daarvan aangekla dat hy op 16 Julie 2021 per taxi onderweg was na Ladismith en in besit was van 'n 1 000 Mandrax-tablette. Hy pleit onskuldig.
Volgens Katshweni is hy die betrokke dag by 'n padblokkade buite Ladismith deur die polisie deursoek sonder dat hulle 'n aanstellingsbrief aan hom getoon of gevra het om deursoek te word.
Volgens hom is sy kleresak toe na 'n polisievoertuig geneem waar een van die beamptes dit glo, sonder dat hy kon sien, oopgemaak en 'n rooi sak met die 1 000 Mandrax-tablette daarin uitgehaal het waarvan hy niks weet nie. Een van die polisiebeamptes het toe glo gesê: "Dis waarvoor ons die hele tyd gewag het. Ons het gekry wat ons gesoek het."
Volgens die beskuldigde het hy in Kaapstad sy kleresak tussen die bestuurder Martin Matuka en sy hulpbestuurder, Granton Booysen geplaas toe hy in die taxi geklim het. Daar was nie 'n rooi sak in sy kleresak nie. Hy het onderweg na Ladismith by twee geleenthede uitgeklim en sy sak in die taxi gelos.
Katshweni het ook getuig dat hy nie by die polisiestasie in Ladismith die teller van die dwelms gesien het nie.
Katsweni se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het tydens kruisondervraging van twee polisiebeamptes dit aan hulle gestel dat die korrekte prosedures nie gevolg is toe hulle die taxi afgetrek en die insittendes deursoek het nie.
Die staatsaanklaer Elaine Plaatjies, het dit aan Katshweni gestel dat hy 'n storie opmaak. Volgens haar is hy nie Kaap toe om vir die naweek te gaan kuier nie, omdat hy nie klere saamgeneem het nie. Katswenie het hierop geantwoord dat klere van hom by sy seun in Kaapstad was en hy daarom nie nog klere saamgeneem het nie. Hy het besluit om vroeër huis toe te kom omdat daar taxi-geweld in Kaapstad was.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is vir uitspraak tot 22 Junie uitgestel.
Katshweni is op borgtog uit en sers. Patrick Figeland van die Valke in George is die ondersoekbeampte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’