LADISMITH NUUS - Kannaland, en meer spesifiek Ladismith, beleef tans ‘n dringende watertekort.
Die Kannaland-munisipaliteit het vroeër, ‘n kennisgewing op hul Facebook-blad gepubliseer waarin hulle inwoners ingelig het oor ‘n waterprobleem weens beurtkrag.
Op 23 Februarie is die publiek weer ingelig dat die munisipaliteit steeds besig is om die probleem aan te spreek. Intussen het die verkoop van drinkwater in plaaslike winkels aansienlik toegeneem, en teen Sondag was die watervoorraad by meeste winkels uitverkoop.
Eden-rampbestuur het vanoggend, 25 Februarie, begin om water vanaf die nabygeleë Zoar af aan te ry om skole en die plaaslike hospitaal te voorsien.
Inwoners van Ladismith het hulle tot Facebook gewend om hulle misnoeë oor die situasie uit te druk. Die munisipaliteit het Maandag op hul Facebook-blad beloof dat die watertoevoer teen 14:00 herstel sou wees. Die watertoevoer na alle woonbuurte is intussen herstel.
In ‘n gesprek met die uitvoerende burgemeester van Kannaland, Jeffrey Donson, het hy vandag, Dinsdag 25 Februarie, uitgelig dat die munisipaliteit oor 14 boorgate beskik, waarvan slegs twee in werkende toestand is. Donson het gesê: “Amptenare wie se plig dit is om die boorgate te onderhou, doen nie hul werk nie. Dit is amptenare wat die huidige plaaslike regering wil laat ‘swak’ lyk.
Wanneer jy iemand haat, vind jy maklik ‘n stok om te slaan. Mense wil uit sulke tipe gebeure probeer stemme kry vir 2026.”
Hy het verder genoem dat Kannaland oor genoegsame water beskik, maar dat daar nie voldoende stoorkapasiteit (opgaardamme) is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’