LADISMITH NUUS - Die nuwe primêre gesondheidsorg-kliniek in Ladismith is uiteindelik Maandag 9 Desember deur die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welsyn, Mireille Wenger, tydens 'n kleurvolle seremonie met rieldansers as aantrekkingspunt, oorhandig.
Verskeie hooggeplaastes in die Suid-Kaap soos Jeffrey Donson, burgemeester van Kannaland, Andrew Stroebel, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, dr. Charles Dreyer, mediese superintendent van die plaaslike hospitaal, asook leiers binne die plaaslike gemeenskap het die geleentheid bygewoon.
Wenger het genoem dat dit vir haar groot vreugde verskaf om uiteindelik die ultra-moderne fasiliteit aan die gemeenskap te oorhandig.
"Hierdie fasiliteit verteenwoordig, vordering, hoop en toewyding binne die gemeenskap van Kannaland. Primêre gesondheidsorg is 'n fundamentele reg van elke burger van hierdie land. Ons bring noodsaaklike mediese dienste binne die bereik van inwoners in Nissenville, Varkieskloof en Sakkiesbaai. Hierdie fasiliteit, van meer as R20 miljoen, is 'n belegging in die toekoms van die mense van Kannaland."
Sy het klem gelê op verbeterde dienslewering, met dienste soos voorkomende gesondheidsorg, tandheel-kunde dienste, fisioterapeute, asook ander gespesialiseerde dienste wat nou ook meer toeganklik vir die gemeenskap sal wees.
Sr. Christina van Rensburg, operasionele bestuurder van die fasiliteit, het eer aan die Hemelse Vader gebring en genoem dat hierdie fasiliteit 'n baken van hoop en genesing vir die gemeenskap moet wees.
Stroebel het die dag as 'n vreugdevolle geleentheid vir die gemeenskap van Ladismith beskryf.
Volgens hom is die kliniek nie net 'n gebou nie, maar eerder 'n verbintenis om die lewensgehalte van die inwoners van Ladismith te verbeter deur te verseker dat hulle toegang tot moderne en deernisvolle gesondheidsorg het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’