DE RUST NUUS - Hierdie is die laaste week wat daar vir De Rust as Kwêla se Dorp van die Jaar 2024 gestem kan word. De Rust is in Mei aangewys as die Wes-Kaap se finalis.
Die ander agt dorpe wat aan dié gesogte titel meeding is Dullstroom, Vredenburg, Vosburg, Frankfort, Jansenville, Modimolle, Heidelberg, Outjo en Port Edward.
Pryse op die spel
Kwêla sal 'n insetsel oor elk van die nege dorpe wat die eindronde gehaal het verfilm en wanneer al nege dorpe op Kwêla bekendgemaak is, sal die publiek van 14 Julie om 19:00 tot 19 Julie om 12:00 vir die finale wendorp kan stem.
Die wendorp word op 28 Julie op Kwêla aangekondig en wen dan die Dorp van die Jaar-titel, sowel as 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van KykNET.
Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.
Daar sal ook 'n groot opskop in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daardie wendorp-gees!
Kwêla sal die wendorp besoek om die opskop te verfilm.
Dit sal later die jaar uitgesaai word. Lottoland het ook 'n verrassing vir die wendorp, wat aangekondig sal word.
Hulle skenk ook in hulle eie hoedanigheid 'n R1 miljoen kontantprys vir die dorp om in hul dorp terug te ploeg en wat deur hulle ge-oudit sal word.
So stem jy
- Stemlyne het reeds Sondagaand geopen en sluit Vrydagmiddag 19 Julie om 12:00.
- SMS die woord DE RUST na 33157.
- Elke nommer kan slegs 30 keer stem.
- Elke SMS kos steeds R1.50 (gratis / SMS-bondels tel nie).
- Elke SMS wat sonder twyfel herkenbaar as een van die dorp-finaliste se name is (al is daar spelfoute of typos) sal deur die ouditeurs getel word.
- Die topdrie dorpe word op 28 Julie op Kwêla aangekondig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’