OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo het Maandagaand hul laaste netwerkaand vir die jaar aangebied.
Hulle het oudergewoonte pakkies vir kinders van Jubilee-kleuterskool ingesamel. Elke jaar kies die buro 'n ander kleuterskool om Kersgeskenke voor uit te deel.
Volgens Tammy Moult, voorsitter van die toerismeraad, was die jaar nie sonder uitdagings nie, maar het dit veel beter gegaan as die vorige twee jare.
"Sporttoerisme lyk baie goed en ons het 'n groot hoeveelheid sportgeleenthede wat in Oudtshoorn plaasvind. Daar is vele geleenthede wat in die dorp plaasvind en dit bring voete na die dorp en na ons gastehuise en besighede."
Volgens haar het Victor Matfield, bekende Springbok-rugbyspeler, ook in Oudtshoorn gekuier.
"Dit is altyd lekker om bekendes in Oudtshoorn te ontvang en ons hoop dat hy weer 'n draai sal kom maak en dan nog toeriste saambring," het sy gesê.
Moult sê een van hul grootste projekte vir die jaar was die resepteboek waaraan hulle gewerk het.
"Dit is 'n projek wat ons begin het om geld vir die toerismeburo in te samel. Daar is 50 resepte van kosliefhebbers vanoor die Karoo. Ons beplan ook 'n Volume 2 van die resepteboek. Die boek is reeds in druk. Die wat bestel het behoort dit binnekort te ontvang. Ons beplan ook 'n Afrikaans-weergawe. Die rede hoekom ons dit in Engels gedoen het was omdat ons die internasionale mark ook wil bereik.
"Enigiemand wat nog resepteboeke wil bestel kan hul bestelling na info@oudtshoorn.com
Moult sê 2023 is reeds propvol bemarkingsgeleenthede.
"Die buro gaan in Januarie die dorp en streek in Nederland en Switserland bemark en dan is daar ook in Februarie die Camping and Caravan-geleentheid in Midrand."
Victor Matfield tydens sy besoek aan Buffelsdrift.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'