Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Beeldhouer en 'n kundige mesmaker van Oudtshoorn, Anton Roetz, het 'n passie vir handgemaakte kitare ontwikkel.
Roetz is veral bekend vir verskeie kunswerke wat as deel van die KKNK se Absa Maakitmooi-projek in die dorp opgerig is.
Volgens Roetz het iemand hom ongeveer drie jaar gelede gevra om te help met die herstel van 'n unieke ukulele.
"Ek kon die kitaartjie nie herstel nie en moes sommige dele heeltemal oordoen en onder andere volstruisvel gebruik vir een gedeelte, en toe byt die gogga my."
Kyk 'n video hieronder.
Roetz is nie self 'n kitaarspeler nie, maar elk van die ongeveer 15 kitare wat hy reeds gemaak het, kan elektries ook gebruik word. Interessante voorwerpe soos 'n koperpot, 'n emalje bedpan, die omhulsel van 'n motor se lugfilter en selfs 'n metaal waterkan is gebruik vir die bakgedeeltes van die kitare.
Verder is breipenne, gedeeltes van deurslotte en fietsratte tot selfs ou muntstukke gebruik as onderdele van sy unieke skeppings.
Een van die kitare is selfs uit 'n stuk hout gemaak wat gered is nadat 'n treintrok, wat destyds deur Paul Kruger gebruik was, 'n aantal jare gelede langs die museum in George uitgebrand het.
Marisca Rain, musikant en musiekonderwyser van Oudtshoorn het Dinsdag 'n aantal van die kitare uitgetoets en was verstom oor die klanke wat hulle voortbring.
Roetz stem die kitare met behulp van 'n rekenaarprogram en nadat sy aan die verskillende vorms en drukke gewoond geraak het, het Marisca weggeval en bekende deuntjies getokkel. Die kitare is nie te koop nie. "Elkeen het sy eie storie en verteenwoordig ure se werk, so ek sal nooit weet hoe om 'n prys aan hulle te heg nie," sê Roetz.
Dit blyk dat hy dieselfde probleem het met die meer as 100 messe wat hy reeds gemaak het - hy kan dit nie oor sy hart kry om een te verkoop nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'