PRINS ALBERT NUUS - Toerisme op Prins Albert het 'n kundige hupstoot gekry met die onlangse aanstelling van dr. Christelle van Zyl as die munisipaliteit se ontwikkelingsbeampte vir toerisme en plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
Prins Albert se burgemeester, Linda Jaquet, het verlede week gesê: "Dit is vir my 'n plesier om dr. Christelle van Zyl te verwelkom. Sy het diep wortels in Prins Albert. Sy verstaan ons gemeenskap en wat ons dorpe uniek maak. Sy bring uitstekende kwalifikasies na die pos - sy het 'n PhD in toerismebestuur van die Noordwes-Universiteit, waar haar navorsing op agri-toerismeontwikkeling gefokus het. Hierdie kundigheid is relevant tot ons munisipaliteit se landboukarakter en toerisme potensiaal."
Jaquet sê Van Zyl se agtergrond kombineer akademiese uitnemendheid met praktiese toerisme-ervaring. Sy het onder andere praktiese bemarkingservaring in die toerismebedryf opgedoen, referate by internasionale toerisme konferensies gelewer en was tot onlangs navorsingsassistent by die Universiteit van Kaapstad se Liberty Instituut vir Strategiese Bemarking. Met haar akademiese agtergrond en praktiese ervaring verstaan sy die strategieë sowel as praktiese werk wat nodig is om toerisme en plaaslike ekonomiese groei te ontwikkel.
Volgens Jaquet is dié aanstelling nie slegs deel van die munisipaliteit se strategie om die dorp se toerisme-ekonomie te versterk nie, maar ook om volhoubare ekonomiese geleenthede vir inwoners van Prins Albert, Leeu-Gamka en Klaarstroom te skep.
"Met ons ryk geskiedenis, merkwaardige landskappe en lewendige kulturele, landbou- en erfenis-aanbod, is daar beduidende potensiaal om toerisme as 'n ekonomiese dryfkrag vir ons gemeenskappe te laat groei," het sy gesê.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer het reeds verlede jaar Prins Albert se splinternuwe besoekersentrum geopen as deel van die dorp se strategie om toerisme en ekonomiese ontwikkeling uit te bou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’