OUDTSHOORN NUUS - 'n Gemeenskap in rou het gisteroggend, Woensdag 16 Oktober, op die hoek van Zebraweg en Oppermanstraat in Bridgton bymekaar gekom om hul laaste eer aan Clifton Karelse (25) te betoon.
Karelse het op 10 Oktober met sy fiets in Zebraweg gery toe hy deur 'n motor raakgery is. Hy het die volgende dag aan sy beserings beswyk.
Familie en vriende het almal gisteroggend, op die plek waar die ongeluk plaasgevind het, byeen gekom vir 'n spesiale kranslegging.
Gemeenskapsleier en raadslid, Leon Campher, het kortliks die roubeklaers toegespreek en daarop klem gelê dat die gemeenskap moet saamstaan teen misdaad. "Ons is hier vandag om Cliffie se familie te ondersteun en kranse op die paal op te rig sodat almal wat hier verbyry hom en wat met hom gebeur het kan onthou."
Na die amptelike verrigtinge is die kranse eers deur Campher aan Karelse se pleegmoeder, Faraceas Oldjohn, oorhandig waarna dit in 'n kring omgestuur is en roubeklaers hul seën daaroor uitgespreek het.
Brontay de Villiers, Karelse se meisie, vertel dat die ongeluk net na 17:00 gebeur het.
"Hy het saam met my kerk toe gestap en is daarna weer terug huis toe. Ek het eers na die diens, toe ek by die huis kom, uitgevind wat gebeur het."
Volgens haar was hy 'n liewe mens wat baie tyd in die natuur spandeer het.
"Hy het altyd baie vriende gehad, met almal oor die weg gekom en het as 'n CWP-werker gewerk, asook somtyds met bye as dit bye-tyd raak."
Oldjohn het vroeër die week aan Oudtshoorn Courant vertel dat sy Karelse se grootmaakma vanaf die ouderdom van twee jaar oud was. Hy is toe in pleegsorg by haar geplaas.
"Ons is baie hartseer en geskok hieroor, dit het net na 17:00 gebeur, maar nie een van ons het fisies die ongeluk sien gebeur nie," vertel Oldjohn.
Sy noem dat geen ouer, al is jy 'n pleegouer 'n kind so vroeg aan die dood wil afstaan nie, en veral nie op dié manier nie. Maar hul glo en vertrou dat die plaaslike polisie wel vinnig die saak sal oplos.
Hy laat sy pleegma, sy meisie Brontay, 'n 3-jarige dogtertjie Chanay de Villiers, sy suster Esmarelda Loxton, en twee broers Christiaan en Daniel Karelse agter.
'n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is hy na George-hospitaal geneem vir behandeling, maar het hy op 11 Oktober aan sy beserings beswyk. "Die voorval word verder ondersoek en geen arrestasies is tot dusver gemaak nie."
Begrafnisreëlings
Begrafnisreëlings is as volg: Saterdag 19 Oktober om 09:00 vind die huisbesoek plaas by Zebraweg 1406, om 10:00 vind die kerkdiens plaas vanuit die Volkskerk en om 11:00 word hy ter ruste gelê in die plaaslike begraafplaas.
Enige persoon met inligting rakende die insident word gevra om Crime Stop by 08600 10111 te kontak, of gebruik te maak van die MySAPS-toepassing om inligting anoniem deur te gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’