Breaking News
KAROO NUUS - Verskeie dele van die Karoo en Tuinroete, waaronder, Prins Albert en Ladismith, word geaffekteer na kraglyntorings Saterdag omgewaai het.
Eskom het vandag, 5 Februarie, in 'n verklaring gesê dat, hoewel hulle hard werk aan herstelplanne om die krag in die geaffekteerde areas weer aan te kry, kan hulle nie op die stadium sê presies hoe lank dit gaan neem nie.
Minister Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning se kantoor het ook vandag 'n verklaring oor die kragsituasie uitgereik.
Volgens hom is die Wes-Kaapse rampbestuursentrum geaktiveer om ondersteuning in die Sentraal-Karoo, Tuinroete en Overberg te bied ná wydverspreide elektrisiteitsonderbreking.
Daar is ook bevestig dat die provinsiale rampbestuursentrum met belanghebbendes vergader het om ondersteuning te bied in gebiede wat sedert Saterdagaand sonder elektrisiteit is. Die kragonderbreking het groot dele van die binneland van die Wes-Kaap geraak, toe Eskom verskeie onderbrekings weens donderstorms gely het.
Volgens die verklaring het Eskom bevestig dat sewe kraglyntorings die naweek ineengestort het, en grondspanne bepaal tans die skade.
“Aangesien ons nie ’n aanduiding het oor hoe lank dit sal neem om die kraglyne te herstel nie, moet ons vir die volgende paar dae vir ondersteuning aan kritieke funksies soos water, riool, hospitale en skole in die geaffekteerde gebiede beplan. Die weervoorspellings vir hierdie week toon ook hittegolftoestande vir die Sentraal- en Klein-Karoo, asook die moontlikheid van verdere geïsoleerde donderstorms. Dit voeg kompleksiteit by tot die elektrisiteitsonderbreking aangesien watertoevoer selfs meer kritiek is tydens hierdie toestande,” het Bredell gesê.
In die Sentraal-Karoo is Leeugamka, Merweville, Laingsburg, Sutherland en Prins Albert geraak. In die Tuinroete-distrik word die dorp Ladismith geraak, en in die Overberg-distrik word Napier en 'n aansienlike gedeelte van die omliggende landelike boeregemeenskap, insluitend die gebied tussen Wolwengat tot by Pearly Beach, ook geraak.
Bredell het in die verklaring gesê dat 'n assessering tans deur die verskillende distrikte gedoen word en ondersteuning sal volgens die behoeftebepaling verskaf word.
“Ondersteuning kan wees in die vorm van vragmotors wat water aanry, gebottelde water, kragopwekkers vir boorgate wat drinkwater verskaf, of kragopwekkers vir afvalwaterstelsels. Ons sal direk met geaffekteerde gemeenskappe kommunikeer soos inligting beskikbaar word.”
Bredell het bevestig dat die Wes-Kaapse regering nou saam met Eskom en plaaslike munisipaliteite sal werk om enige ondersteuning te verskaf wat nodig is om die herstelwerk te bespoedig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’