Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Bibberkoue word tans in die Klein Karoo ervaar.
Dit volg na sneeuneerslae oor die meeste hoogliggende dele van die Wes-Kaap wat gepaardgaan met ‘n derde koue front wat sedert Vrydag oor die provinsie inbeweeg het.
Swaar reën wat die naweek oor Kaapstad en omstreke uitgesak het, het Sondagnag oor oor die Klein Karoo begin val, met tussen 4 en 11 mm wat deur inwoners gemeet is. Sneeu het ook Sondagnag oor die Swartberge begin neersif.
Teen Maandagmiddag het die kwik steeds op 11°C gestaan, met die belofte van heelwat kouer temperature deur die nag. Die res van die week se voorspelling is ook vir nagtemperature rondom 0 °C, en ‘n geleidelike toename in dagtemperature tot sowat 20 °C teen Saterdag, ten spyte daarvan dat ‘n yl sonnetjie sal skyn. Die reën blyk vir die oomblik verby te wees.
Sondagnag se reën het geen verskil aan die Melville- en Raubenheimerdam se gesamentlik vlak van 36,6% verander nie. Smeltende sneeu sal waarskynlik mettertyd ‘n bietjie tot die damvlak bydra.
Boere het gemengde gevoelens oor die koue. Die Suid-Afrikaans Weerburo en die Departement van Landbou het boere gewaarsku teen uiterste koue. Terwyl ‘n sekere aantal koue-eenhede vir vrugte en neute, soos pekanneute, nodig is vir optimal optimale vrugvorming, is veeboere bekommerd oor veral kleinvee en volstruise. Volstruise is sensitief vir koue, nat weer, want in ‘n poging om warm te bly, verdring hulle mekaar.
Sybokke wat pas geskeer is, is ook sensitief vir koue. “Ek sorg dat my sybokke hierdie tyd van die jaar ten minste drie maande se vag het. Solank hulle onderdak gehou word en energievoeding, soos mielies, ontvang, is hulle oukei. Maar baie boere het nie meer voer nie…”
Die Swartbergpas is sedert Maandagoggend gesluit weens die sneeu wat oornag geval het. “Daar is ‘n ligte lagie sneeu wat ‘n bietjie smelt as die son skyn. Maar wanneer dit weer kouer word, ys die gesmelte sneeu wat die pad uiters glad maak. Mense wat na die sneeu wil gaan kyk, moenie teen die pas uit ry nie,” waarsku Gerald Becker van die provinsiale verkeersdepartement.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'