OUDTSHOORN NUUS - Die koshuis van die eertydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) in Springbokweg, Bridgton, is besig om stuk vir stuk deur vandale weggedra te word.
Die gebou is in 'n vervalle toestand nadat dit nou reeds vir jare in onbruik is. Die terrein is eers onlangs omhein en sekerheidsbeamptes is aangestel.
Die algemene gevoel is egter dat dit te laat is en miljoene rande sal kos om te herstel.
Talle inwoners meen die beste wat nou kan gebeur is om die gebou te sloop en die perseel vir een of ander doel aan te wend.
Die eetsaal, kombuis en byeenkomssaal is reeds onbruikbaar, asook die boonste vloer van die hoofgebou.
‘n Gedeelte van die grond- en eerste vloere word die afgelope tyd as kantore gebruik.
Die gebou is heeltemal vervalle.
Volgens David Piedt, sameroeper van die Oudtshoorn onderwys- en opleidingskomitee, is die komitee in gesprek met die departement openbare werke oor die toekoms van die gebou met baie voorstelle wat op die tafel is.
“Wanneer jy ondernemings met die staat doen is dit ‘n lang proses en geduld is ’n voorvereiste. Die komitee het die onderhandelinge met Openbare Werke oor wat met die gebou gaan gebeur langer as ‘n jaar gelede aangepak. Daaroor is nog geen uitsluitsel gekry nie, maar ‘n heining ter waarde van derduisende rande is alreeds rondom die perseel aangebring. Daar is ook deurnag sekuriteit wat darem die plundery aan bande lê.
"Ons het eersdaags weer ‘n vergadering in Kaapstad met Openbare Werke om die toekoms van die struktuur te bepaal. Die aanbring van die heining is ‘n bewys dat openbare werke hom tot die saak verbind.”
Piedt het verder gesê die Oudtshoorn-munisipaliteit is ook nou by onderhandelinge betrokke en hulle hoop om binnekort terugvoering aan die gemeenskap te kan gee.
Volgens hom is alle aanduidings dat die munisipaliteit voogdyskap van die terrein kan neem en moontlik besluit om die gebou te sloop en te kyk na die moontlike oprigting van huise.
Piedt is vol hoop dat ‘n besluit eersdaags geneeem sal word omdat die hele proses, volgens hom, “mense frustreer”.
"Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, sal eersdaags ‘n aankondiging oor die toekoms van die gebou en ander onderwysaangeleenthede doen," het Piedt Woensdag gesê.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan Byron La Hoe, woordvoerder van Openbare Werke, gestuur, maar geen terugvoering is tot dusver ontvang nie.
Dit sal miljoene rande kos om die gebou te herstel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'