OUDTSHOORN NUUS - Daar was die afgelope paar weke verskeie voorvalle van beskadiging aan eiendom by die Rooms-Katolieke Kerk in Bridgton.
Dié voorvalle het egter verlede week geëskaleer, en is daar twee aande na mekaar by die kerk ingebreek en verskeie waardevolle items is uit die kerk gesteel.
Volgens vader Dennis Ongansie het die booswigte met die vorige voorvalle net die perseel betree en buite om die kerk skade aangerig en eiendom beskadig.
"Die skade wat hulle verlede week aangerig het was heelwat meer. Die booswigte het Dinsdag- en Woensdagaand die traliehekke oopgebreek en die houtdeure stukkend getrap. Hulle het kabels uit die mure geruk en stukkend gesny en verskeie koperware, waar onder die altaar se kandelabra en die klokkies wat ons tydens dienste gebruik gesteel. Die skade is massief en so onnodig."
Volgens Ongansie is die skade in randwaarde nog nie bepaal nie, maar beloop dit etlike duisende rande.
"Tot die drade van die waaiers in die kerk is afgesteel en oopgesny. Sekere goed sal vervang kan word," het hy gesê.
Van die koper wat agter gebly het.
Volgens hom is klagtes by die polisie ingedien, maar doen hy tog 'n beroep op die gemeenskap om hul oë en ore op die grond te hou vir inligting rakende die voorval.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het gese net een voorval is in April vanjaar aangemeld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’