OUDTSHOORN NUUS - Die veteraan kinematograaf, draaiboekskrywer, regisseur en rolprentvervaardiger Koos Roets (83) het op 22 Augustus 2026 ’n gesogte lewensbydrae-toekenning by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad ontvang vir sy dekades lange en uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf.
In gesprek met Roets noem hy dat die toekenning hom onkant gevang het.
“Gewoonlik gaan die pryse aan akteurs en skrywers en is dit min dat iemand agter die kamera so vereer word. Ek is 64 jaar in die bedryf. Dit maak mens se hart bly om so iets te ontvang. Dit is nog nie die einde van my nie, ek is 83 en is reeds weer besig met my volgende rolprent, The Sky Trap wat handel oor ’n Spitfire-vegvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog. Soos hulle in Engels sê, watch this space!”
Roets vertel hy wonder nogal tong-in-die-kies wat maak hom ’n legende. “Omdat ek vir 64 jaar in die bedryf uitgehou het? Maar ek is baie trots op en erg dankbaar vir die toekenning!”
Vir hom span dit die kroon op jare lange werk en dat hy raakgesien word vir sy bydrae is vir hom ’n beskeie erkenning. “Ek het waardering vir kykNET se insette in die bedryf en ook dat hulle wel met die Silwerskermfees verdienstelike talent oor ’n bree spektrum beloon.”
Hy het al as laerskoolkind op Prieska kinders vermaak met sy stories met behulp van selfgemaakte projektors. Sy groot vuurdoop was egter as 27-jarige kameraman op regisseur Jans Rautenbach se Jannie Totsiens, ’n baanbrekersrolprent met tegniese en emosionele uitdagings wat die meeste ander kameramanne sou laat knak het.
Sy loopbaan het in 1962 begin as assistentkameraman vir Jamie Uys. Later het hyself ook heelwat regie gedoen, vir film en televisie, wat onder meer regie vir PG du Plessis se gewilde televisiereeks, Koöperasiestories, insluit.
Jamie Uys
’n Onvergeetlike oomblik vir hom in sy loopbaan is juis sy heel eerste werk wat hy by Jamie Uys gekry het en die eerste keer wat hy iets met ’n regte 35 mm-Arriflex-kamera afgeneem het. “Jamie was altyd my hero, nie Die Skim of Tarzan nie.”
Dit was ook die einste Jamie wat vir hom die belangrikste les oor die bedryf geleer het, om nie te vergeet van die “groot E” nie. “E vir entertaining. Dit help jou niks as jy ’n slim kunstige gedoente gemaak het en dit lê op die rak en niemand wil daarna kyk nie! Verneuk die kyker eerder met ’n bietjie humor om jou boodskap tuis te bring as met ’n gesuffery! Dit sal baie langer in jou gedagtes bly vassit. PG du Plessis was die meester hiervan. Nes jy lekker lag, druk hy ’n mes in jou maag en gee dit ’n draai!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’