DE RUST NUUS - Die konstruksie aan die hoofwaterpyplyn tussen die Klein-Karoo Landelike Watervoorsieningskema en die reservoir in Blomnek is volstoom aan die gang.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die grootmaatwatervoorsiening, soos dit tans is, nie voldoende nie omdat die watertoekenning te laag is en die waterkwaliteit uit die Huisrivier swak is, veral na die verwoestende brand in Desember 2016 in die opvangsgebied.
Die pyplyn wat onder konstruksie is, voorsien water aan Blomnek en De Rust in droogte tye en wanneer die watergehalte nie na wense is nie.
"'n Pyplyn van 4,5 km en 200 mm in diameter gaan gelê word en die aanjaerpompstasie by Nelsrivier word opgradeer. Die water is afkomstig van boorgate en dit word by die watersuiweringswerke by Dysselsdorp eers gesuiwer voordat dit na die pompstasie sal gaan. Vanaf die pompstasie sal die water na die Asla-reservoir by Blomnek gepomp word."
Volgens haar behels die suiweringsproses die verwydering van oormaat yster en mangaan in die water en word die PH-vlakke reggestel. Die chlorinering van die water is laaste.
"Die projek behoort middel Oktober vanjaar gefinaliseer te wees en daar is R8,4 miljoen vir die projek opsygesit. Dit is deur die Droogtehulpfonds, MIG (Municipal Infrastructure Grant) en WSIG (Water Services Infrastructure Grant) moontlik gemaak."
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Karoo nuus'