OUDTSHOORN NUUS - Daar heers groot kommer dat die land se polisiehonde-eenhede in duie kan stort weens 'n tekort aan opgeleide polisiehonde en veroorsaak dat 75 opgeleide hanteerders nie honde het om mee te werk nie.
Volgens Nicholas Gotsell, DA-LP en lid van die gekose komitee oor veiligheid en justisie, is swak bestuur in die polisie die oorsaak dat honde-eenhede nie doeltreffend kan funksioneer nie.
"Dit is krities dat meer honde vir dwelmopsporing, plofstofopsporing, reddingsoperasies en perlemoenbeskerming verkry word. Die probleem lê grootliks by die polisie se gesentraliseerde teel- en opleidingsprogram by Roodepoort naby Pretoria."
K9-snuffelhonde, word aangewend vir misdaad soos dwelms, spoorsny, plofstof, veediefstal, moord en die opsporing van vermiste persone.
Kol. André Traut, provinsiale bevelvoerder, noem in 'n navraag dat die Wes-Kaapse polisie erken dat daar 'n groot tekort is aan honde vir die onderskeie K9-eenhede in die provinsie. "Ons is in 'n gevorderde stadium om die kwessie daadwerklik aan te spreek."
Volgens hom is dit prioriteit om toe te sien dat al die K9-eenhede ten volle kan funksioneer met genoeg opgeleide honde.
Departement antwoord
Met verdere navraag aan die departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid noem Kurt Nefdt, waarnemende mediawoordvoerder, dat slegs die polisie antwoorde kan gee oor die aantal honde wat tans in diens is in die Wes-Kaap.
Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het op die navraag reageer, "Die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid het die departement omvattend belê in die stigting en ondersteuning van K9-eenhede in verskeie munisipaliteite. Kaapstad, Swartland, Overstrand, asook Mosselbaai het tot dusver voordeel getrek met die Wes-Kaapse K9-projek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’