PRINS ALBERT NUUS - Beplanning van die Prins Albert-leesfees wat vanjaar vanaf 4 tot 6 September plaasvind is volstoom aan die gang.
Verlede jaar is besluit om aanbiedinge wat op Sondag plaasvind meerendeels gratis aan te bied om inwoners ook die geleentheid te gee vir deelname.
Een van die Sondagaanbiedinge is Gedigte teen dagbreek / Poetry at sunrise wat die afgelope twee jaar 'n gewilde en spontane deel van die Prins Albert-leesfees geword.
In 2024 is digters van die dorp genooi om hulle gedigte by Kritikomkoppie voor te lees terwyl die son nog aan die opkom was.
Die reaksie was groot en die geleentheid is weer verlede jaar aangebied toe die digters, Tom Dreyer en Hannes Visser, die program ingelei het. Daarna het 'n aantal opkomende digters en leerders van die hoërskool ook die mikrofoon geneem.
Kritikomkoppie is 'n verlate gruisgat by die dorp wat 'n tyd gelede deur harde werk van die Prince Albert Community Trust in 'n amfiteater omskep is.
Vir sommige mense wat die vorige twee leesfeeste bygewoon het, was dié vroegoggendsessie een van hulle hoogtepunte. Gedigte met dagbreek word weer vir vanjaar se leesfees beplan en die bekroonde digter, Danie Marais, sal die oggend se eerste gedigte lees.
Daar is elke jaar 'n program by skole in Prins Albert waartydens jong digters hulle werk kan inskryf en ook kan voorlees. Die oggend word spesifiek gereël om aan plaaslike digters blootstelling te gee. Toegang en deelname is gratis.
Vir meer inligting oor die leesfees, kontak Hannes Visser by 083 467 1522.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’