OUDTSHOORN NUUS - 'n Kleuterskool in Oudtshoorn, Nomonde Creché, moet binnekort vir die nuwe skooljaar oopmaak, maar beskik oor geen water, elektrisiteit of badkamergeriewe nie omdat die skool al vir bykans 'n jaar deur kwaaddoeners in die omgewing afgebreek en gevandaliseer word.
Liezl Mapoe, die hoof van die skooltjie, sê sy en haar personeel is op moedverloor se vlakte en weet nie meer watter kant toe nie.
Die skool is in 2010 geopen en het 56 kinders tussen die ouderdomme van twee en vyf jaar.
"Dit het aan die begin van lockdown verlede jaar begin gebeur. Hulle het al toilette, wasbakke, ligte, tafels en stoele, kos, waterpype, deure en die kragboks gesteel. Ons kry 'n klein bedrag per maand by maatskaplike dienste en daaruit moet personeel betaal word en die kos en die voorraad vir die skool gekoop word. Ons kan nie bekostig om als te vervang nie."
Volgens haar weet hulle ook wie die misdrywe pleeg, maar die meerderheid van die boosdoeners is glo minderjarig.
"Hier is mense in die gemeenskap wat al gesien het hoe knip hulle die heinings af en hoe sit en gebruik die kinders dwelms op die perseel, maar hulle doen niks. Hulle los hulle net. Wat dit vir my so erg maak is dat dit mense in ons eie omgewing is en wie self kinders hier het of wie se familie se kinders hier skoolgaan, wat die plek so afbreek."
Annelise May, die adminklerk, sê sy het vir tyd en wyl mense gereël wat in die skool slaap om die plek op te pas.
"Dit is egter net 'n korttermyn oplossing. Ons het al van tevore klagtes gelê, maar daar gebeur niks. Ons weet nie hoe ons die skool gaan oopmaak met so min geriewe nie. Ons het 'n badkamerprogram wat ons moet volg maar die toilette is weg en die waterpype is gesteel."
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is tussen 2019 en 2020 vier klagtes gelê waarvan twee huisbraakklagte nog ondersoek word. Niemand is in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie.
Die badkamer waar die toilette en wasbakke uitgesteel is.
Die waterpype en pype van die toilette is ook afgesteel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'