LADISMITH NUUS - 'n Kleuter wat hierdie maand twee jaar oud sou wees het in 'n fratsongeluk op Anysberg naby Ladismith verdrink.
Henzel Plaatjies (1 jaar en 11 maande) het op Vrydag 10 April in ’n emmer vol water, wat buite die huis gestaan het, geval.
Sy suster het alarm gemaak, maar toe hulle ma, Angelica, by die kleuter kom was hy reeds dood.
Die kleuter se ouma, Sylvia Plaatjies, sê 'n week na die voorval is dit 'n skok wat hulle steeds moet verwerk.
"Dit is vir ons almal, maar veral vir my dogter, baie erg. Sy het baie keer van die plaas af dorp toe gekom en Ouma se pragtige kleinseun saamgebring. Maar die Here weet van beter. Hy sou vandag (16 April) verjaar en twee jaar geword het."
Volgens Angelica se broer, André, was Angelica "gebroke en stukkend toe sy haar kind in die forensiese span se sak gesien het en sy het geworstel met die vraag waarom die Here haar kind moes kom haal het."
André het haar na die lykshuis op Oudtshoorn vergesel om die formaliteite af te handel. "Al wat ek vir haar kon sê was om haar hart uit te huil."
Volgens Henzel se oumagrootjie, Sophia, het daar reeds vyf kinders in die familie op vroeë ouderdom gesterf. "Dis asof die dood ons kinders agternasit," het sy gesê.
Sers. Chris Spies, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die voorval bevestig. "Die seuntjie wat in die water geval het, was reeds dood toe hy uitgehaal is. Die lykskouing is reeds gehou en geen gemene spel word vermoed nie."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'