OUDTSHOORN NUUS - 'n Kleuter van GG-kamp, Bulelwa Tarentaal (4), het Sondagoggend die dood wonderbaarlik vrygespring nadat sy deur 'n kragboks naby haar huis geskok is.
Dié spesifieke kragboks het ten tyde van die voorval, volgens 'n ooggetuie Grace Notyeke, oopgestaan wat toegang tot die lewensgevaarlike elektriese kragdrade vergemaklik het.
Notyeke sê dat sy net na 11:00 dié oggend verby die kragboks gestap het toe sy Bulelwa en 'n paar van haar maatjies by die oop kragboks gewaar het.
"Soos enige besorgde ouer het ek nader gehardloop om die hele lot te verwilder. Dis toe dat ek sien dat Bulelwa neerval op die grond en 'n paar rukke gee. Sy het daarna doodstil gelê en ek het dadelik Bulelwa se ma, Sharon Tarentaal, laat roep wat nie vêr van daar bly nie."
Volgens 'n emosionele Tarentaal was sy erg geskok toe sy haar kind se lewelose liggaam op die grond sien lê. "Ek het onmiddellik kunsmatige asemhaling op haar begin toepas en na sowat vyf minute het my kind bygekom. Die ambulans het na omtrent 20 minute opgedaag en haar hospitaal toe geneem waarna sy dieselfde dag nog ontslaan is. Ek is God ewig dankbaar dat Bulelwa nog met ons is. Dit kon so anders gewees het. Sedert die voorval maak Bulelwa nou haar bed nat in die aand wat sy nooit voorheen gedoen het nie. Wanneer sy slaap ruk haar lyf ook onwillekeurig met tye."
Notyeke het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die GG-kamp-gemeenskap al sedert verlede jaar die Oudtshoorn-munisipaliteit soebat om dié kragboks te beveilig. "Afgesien daarvan dat dit 'n veiligheidsrisiko vir die inwoners en kinders is, peuter misdadigers ook met dié kragboks se drade om die elektrisiteit in die area af te sit wat dit vir hulle makliker maak om misdaad te pleeg. Ek stel voor dat die munisipaliteit die kragboks se deure ordentlik sluit en ook 'n staalheining rondom dit bou. Dis al manier hoe ons ouers snags rustig kan slaap," het sy gesê. Die munisipaliteit het na die voorval die kragboks met n staaldraad toegedraai. 'n Navraag oor stappe om soortgelyke kragbokse in die gemeenskap te beveilig, is aan die munisipaliteit gestuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'