OUDTSHOORN NUUS - Hoe maak 'n skool om sy leerders weer tuis in die banke te laat voel – selfs vrolik in 'n tyd waarin 'n onbekende, vreesaanjaende virus skoolgaan en kind-wees ontwrig? Jy heet die kinders welkom met kleurvolle skilderkuns wat grys, snerpend koue dae plesierig maak en glimlagte agter maskers ontlok.
Dié plan van Prins Albert Primêr is die afgelope week in werking gestel toe die hoof, Sammy Delport, die departementshoof van die grondslagfase, Philida April, en twee onderwysers, Diana Koorts en Leonie Moolman, koppe bymekaargesit het en besluit het om Berlinda Nel, 'n gasteplaaseienaar en kunstenaar van die omgewing, in te roep om die skool met verfwerk in klasse en splinternuwe illustrasies op van die deure op te kikker.
Nel en opvoeders van die grondslagfase het ingespring en temas soos blomme, insekte, die son, wolke, visse, dinosourusse en drake – asook gelukkige kinders – op die deure van die kleintjies se klaskamers geverf om hulle weer lus te maak vir leer en skoolgaan.
Volgens April is een van die vereistes vir die bestuur van Covid-19 in skole om psigo-sosiale ondersteuning aan opvoeders en leerders te bied.
"Elke dag is 'n nuwe uitdaging en ons fokus op vooruitgang. Ons wil die negatiwiteit en hartseer van die pandemie omskep in 'n positiewe omgewing.
"Ons wil ons leerders aanmoedig om elke dag na 'n nuwe skooldag uit te sien. Elke opvoeder en leerder is geregtig op 'n netjiese, kalm omgewing sodat kwaliteitonderrig kan geskied."
Delport het aan Oudtshoorn Courant gesê hy ondersteun hierdie waardes ten volle en het die projek aangemoedig sodat 'n positiewe leeratmosfeer onmiddellik geskep word met die terugkeer van sy leerders.
Volgens Koorts is sy dankbaar teenoor Nel "wat so kunstig is" en onmiddellik ingestem het om te help. "Ons kinders gaan sommer bly wees om terug te wees. Vir al die klasse is verfblikke uitgeruk en selfs die mure geverf en mooigemaak. Dis die één positiewe punt van die koronavirus – dit wat hier by Prins Albert Primêr gebeur."
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'