OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Agri en Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) ploeg nie net lande nie, maar ook terug in plaaslike rugby, meer spesifiek SWD-hoërskoolrugby.
Volgens Rodney Thomas, hoërskole-voorsitter van SWD-rugby, is die borgskappe van hierdie twee entiteite van onskatbare waarde as 'n mens na die groter prentjie kyk.
Dié borgskappe bevorder ondermeer ontwikkeling en ook om behoeftes van spelers te finansier.
David Malan, hoof-uitvoerende beampte van Klein Karoo Saadproduksie, sê dat hul maatskappy se borgskap al sedert 2013 van krag is en dat hul motivering is om graag by skolesport betrokke te wil wees.
"Dis moeilik om al die skole individueel te ondersteun, maar as ons betrokke raak by SWD raak ons eintlik betrokke by al die skole in ons streek. So die ouens wat die potensiaal het pluk die vrugte van ons finansiële inspuiting om sodoende verder te gaan met hul rugby. Ons skep ook deur sport, geleenthede vir die manne om nie net hul skoolloopbane klaar te maak nie, maar om ook op universiteitsvlak te gaan deelneem. Dan is baie van ons kliënte se kinders in elke geval betrokke by rugby by die skole, so dit maak net sin om op hierdie manier op 'n oorhoofse basis deur SWD terug te ploeg in die gemeenskap," sê Malan.
Thomas sê dat die SWD-rugby in Februarie vanjaar 'n ontwikkelende o. 18- skoleligatoernooi op die been gebring het vir voorheen benadeelde skole waar plaaslike spelers wat normaalweg nie 'n kans kry, ook 'n geleentheid te gee om ook hul staal te wys. Hierdie liga word in September voortgesit waar o. 17 en o. 15 ook sal meeding.
Terblanche du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Agri het beide Thomas en Malan se sentimente gedeel en beklemtoon dat rugbyontwikkeling op voetsoolvalk begin.
"Ons hoop van harte dat ons borgskappe die speelveld gelyk sal maak vir almal om bo uit te kom ongeag jou agtergrond."
Beide Klein Karoo Agri en Klein Karoo Saadproduksie het bevestig dat hul borgskappe onbepaald op 'n jaarlikse basis sal geskied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’