OUDTSHOORN NUUS - David Schoeman en Jordi van Hasselt, twee sybokhaarboere van die Klein-Karoo, is verlede Dinsdag as twee van die wenners van die 40ste Miyuki-toekennings aangewys.
Sybokhaar Suid-Afrika en Miyuki Keori het die geleentheid in Gqeberha aangebied.
Van Hasselt, wat buite Prins Albert boer, is as grootkampioen aangewys terwyl Schoeman, wat buite Dysselsdorp boer, die toekenning vir reserwekampioen, somerskeersel ontvang het.
Die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf en Miyuki Keori, 'n premium Japannese tekstielvervaardiger en pasgemaakte pakbesigheid, het in 1980 saamgewerk om erkenning te gee aan die Suid-Afrikaanse sybokhaarprodusente wat die beste geklasseerde sybokhaarskeersel lewer. Volgens Mohair South Africa het hierdie gesogte kompetisie ten doel om Suid-Afrikaanse sybokhaarboere, wat die beste sybokhaar ter wêreld produseer, aan te moedig om die aanbieding en kwaliteit van die Suid-Afrikaanse sybokhaarskeersel te handhaaf en te verbeter.
Jordi van Hasselt
Van Hasselt boer reeds sedert hy 22 jaar oud is met angorabokke.
Volgens sy suster, Frances, wat die toekenning namens hom ontvang het, is dit vir hulle 'n massiewe voorreg om weer die toekenning te kon ontvang. Sy sê sy het die toekenning namens haar broer en ma, Gay van Hasselt, ontvang omdat hulle te besig was met die boerdery.
"Hierdie toekenning is werklik hulle s'n. Hulle wen die toekenning sedert 2014. Dit is vir ons belangrik omdat ons na elke wen net nog beter wil doen. Dit is geweldig nederig om toekennings soos die Miyuki te ontvang. Die toekenning erken die passie en toewyding aan die land en ons diere en word gedeel met verskeie ander in die sybokhaarbedryf wat streef na uitnemendheid en so diep omgee vir die bewaring van die omgewing en die bokke."
Volgens haar is die Van Hasselt-boerdery 'n familie gedrewe besigheid waar hy en hul ma, Gay, self boer.
"Ons as familie is geweldig trots om in dié industrie te wees. Die kompetisie is regtig taai op die oomblik, omdat Suid-Afrika die beste sybokhaar produseer. Boerdery is moeilik en uitdagend, maar dit is iets wat ons elke dag leef. Die verbintenis tussen boere en die natuur is onwrikbaar en selfs in die ergste droogtetoestande kies hulle om te doen wat hulle oor en oor doen."
Volgens haar sou hierdie prestasie nie moontlik wees sonder 'n span passievolle en toegewyde mense nie.
David Schoeman
Schoeman boer op Rietfontein net buite Dysselsdorp.
Volgens hom het hy daar grootgeword en geboer vandat hy kon loop.
"Ek het so om en by agt jaar gelede met angorabokke begin boer toe die volstruise se pryse baie laag was tydens die voëlgriepuitbraak. Ek het maar iets addisioneel gesoek om kontantvloei aan die gang te hou. Angorabokke was die goedkoopste."
Hy sê hy het 'n paar ou ooie gekoop en gehoop dat hulle nog net eenkeer kan lam.
"Ek het nie baie van syhaarbokke geweet nie en het maar so met die oog gesteel en na almal se raad geluister."
Volgens hom is daar nie veel geheime aan hierdié bedryf nie.
"Die grootste geheim is om mooi na jou diere te kyk. Die Hemelse Vader eintlik vir al my sukses verantwoordelik en gee ek graag alle eer aan Hom."
Jordi van Hasselt van Van Hasselt Farming (Prins Albert) ontvang in 2017 hul vyfde agtereenvolgende Miyuki Keori Trofee. Saam met hom is sy plaasbestuurder, Klaas Williams (middel) en Pierre van der Vyver (OVK Bestuurder: Sybokhaar). Foto: OVK Facebook-blad
Jordi van Hasselt van Van Hasselt Farming (Prins Albert) ontvang in 2017 hul vyfde agtereenvolgende Miyuki Keori Trofee. Saam met hom is sy plaasbestuurder, Klaas Williams (middel) en Pierre van der Vyver (OVK Bestuurder: Sybokhaar). Foto: OVK Facebook-blad
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’