OUDTSHOORN NUUS - Onderhandelinge tussen die CP Nel-museum en die direksie van die Langenhoven Gedenkfonds is tans aan die gang om items van die uitstallings by Arbeidsgenot op bruikleen aan die CP Nel-museum beskikbaar te stel.
Een van die items wat beslis deel van die nuwe uitstalling sal uitmaak, is 'n veselglasbeeld van 'n olifant wat reeds in 2000 deur Arbeidsgenot bekom is.
Die beeldjie, Klein-Herrie, is op 25 Maart 2000 deur Distillers Koöperasie (Amarula) aan Arbeidsgenot geskenk nadat hulle deur Mariana Swanepoel, destydse kurator van Arbeidsgenot, genader is.
Samewerking
Die olifant staan reeds etlike jare in die waenhuis-gedeelte van Arbeidsgenot en die Arbeidsgenot-komitee, wat uit plaaslike inwoners bestaan, het die CP Nel-museum genader oor die moontlikheid om Klein-Herrie by die museum staan te maak om besoekers sodoende ook van Arbeidsgenot bewus te maak.
Carla Ferreira, onderbestuurder van die CP Nel-museum, het 'n stap verder gegaan en voorgestel dat 'n uitstalruimte by die museum beskikbaar gestel word om meer as net Klein-Herrie te akkommodeer.
"Die museum en Arbeidsgenot hoef nie in silos te werk nie; die een kan die ander aanvul en sodoende kan toeriste albei geniet," het sy aan Oudtshoorn Courant gesê.
Arbeidsgenot word deur die Langenhoven Gedenkfonds bestuur en Ferreira het hierdie week die proses aan die gang gesit om 'n uitruilooreenkoms tussen Arbeidsgenot en die CP Nel-museum te bewerkstellig.
Roebaijat
Van die kleiner items in Arbeidsgenot is agter glas in die kamers en nie toeganklik of sigbaar vir die publiek nie. Langenhoven se vertaling van Omar Kajjam se Roebaijat is 'n voorbeeld van een van die items. Dié vertaling, wat deur Langenhoven in kalligrafie as 'n geskenk vir Vroutjie gedoen is, word in 'n houtkis bewaar en kan nie tans besigtig word nie. Langenhoven het die Roebajjat in Afrikaans vertaal 'n aantal jare voordat die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel gedoen is.
Uitstalruimte
Sodra onderhandelinge tussen die direksie van die Langenhoven Gedenkfonds en die museum gefinaliseer is, sal daar besluit word watter items in die CP Nel-museum uitgestal kan word. Die uitstalruimte in twee glaskaste het beskikbaar geraak nadat die oorspronklike uitstalling oor die Poolse weeskinders verbeter en verskuif is. Daar is tans slegs 'n smal glaskas met foto's en 'n klein aantal gedenkwaardighede van Langenhoven naby die ingang van die CP Nel-museum.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’