OUDTSHOORN NUUS - Sondag 26 April het 30 stappers verbonde aan die Klein Karoo Camino met ’n staptog begin ten bate van Helpende Hand.
Hulle kom van sover as Naboomspruit in die noorde om die staproete onder begeleiding van Hannes Noëth, die besturende direkteur van Helpende Hand, mee te maak.
“Die behoefte in die samelewing is nie net aan die materiële nie, maar ook aan die geestelike en kulture” sê Hannes.
Dit is nie bloot ’n stap in die mooi natuurskoon van die Klein-Karoo nie, maar ook ’n reistog vir die siel (die leuse van die Klein Karoo Camino). Vir vanjaar se Klein Karoo Camino is die tema “Waarheen is die Here met MY op pad” na aanleiding van die Bybelboek Jona. Besondere besoekpunte is die
Bybelse Tuin by NG Gemeente Kangovallei, De Rustica Olyflandgoed vir die eeue-oue simboliek van die olyf en olyfolieproe, asook die Lydensweg by Dysselsdorp.
Verskeie historiese kerkgeboue word besoek. Dit sluit in die NG Moedergemeente, St. Judes Anglikaanse gemeente, die Oudtshoorn sinagoge (bekend as Der Englishe Shul) asook die St. Saviour Katedraal. Om ‘n boekrol te sien en na die fassinerende verbintenis van die Napoléon Bonaparte familie met Oudtshoorn te luister is ‘n besondere voorreg.
Die roete strek vir 100km al langs die voetheuwels van die Swartberg. Stappers kan uitsien na ’n lowergroen omgewing en ideale stap weer. Daaglikse afstande wissel van 14km tot 26km.
Met die staptog word fondse ingesamel vir onder andere Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat daagliks meer as 8 000 kleuters voed. Daar word reeds beplan vir die 2027 Klein Karoo Camino staptog ten bate van Helpende Hand. Hou die media dop vir ‘n unieke ervaring en neem gerus deel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’