Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Eiendomsagent van Oudtshoorn, wat na bewering huurdeposito's en huurgeld in sy eie sak gesteek het, word deur die polisie ondersoek vir bedrog en diefstal.
Volgens kapt. Louis Visser en sers. Gretchen Michaels, woordvoerders van die Oudtshoorn-polisie, word 'n klag van diefstal en twee klagte van bedrog ondersoek. Die diefstalklag spruit voort uit 'n voorval waar die verdagte op 18 Maart versuim het om huurgeld aan die klaagster oor te betaal. Die eerste klag van bedrog hou verband met R14 000 wat in Februarie aan die verdagte betaal is vir die huur van 'n huis, maar die huis is glo nie beskikbaar gemaak nie.
Die tweede klag van bedrog is deur nog 'n klaer op 6 Maart gelê nadat 'n kontantdeposito ook vir 'n huurhuis betaal is, maar die huurder nie kon intrek nie.
Die Oudtshoorn Courant het die afgelope week met verskeie mense gepraat wat glo stelle met die eiendomsagent afgetrap het.
Dit blyk dat hy tot Februarie verlede jaar deel was van 'n gevestigde eiendomsagentskap op die dorp. Die agentskap se prinsipaal het aan die koerant verduidelik dat sy die besigheid verlede jaar herstruktureer het en dat verskeie agente toe onafhanklik begin werk het. Die verdagte was een van die agente wat op sy eie kontrakte aangegaan het en volgens die prinsipaal het hy wederregtelik op haar kontrak transaksies gedoen waarvan sy nie kennis gedra het nie.
Mense van elders ook geld kwyt
Een van die slagoffers met wie Oudtshoorn Courant gepraat het, woon in Mpumalanga. Volgens hom het hy die afgelope nege jaar 'n eiendom in Oudtshoorn deur die oorspronklike agentskap se prinsipaal verhuur.
"Hy (die verdagte) het my laat verstaan hy werk nog vir die vrou en dat hy nou die huurgeld ontvang en oorbetaal. Verlede maand het ek egter nie die huurgeld gekry nie en toe ontdek ek dat daar 'n klomp ander mense is vir wie hy ook geld skuld."
Volgens nog 'n persoon wat aan die einde van die maand vanaf KwaZulu-Natal na Oudtshoorn moet verhuis, het hy 'n huureiendom buite Oudtshoorn gekry en 'n deposito van R5 800 aan die verdagte oorbetaal. Hy is later egter deur die eiendomsagent in kennis gestel dat die eienaar besluit het om nie meer die eiendom te verhuur nie.
Nog iemand met wie die Oudtshoorn Courant gepraat het, is R8 500 uit die sak gejaag vir 'n deposito van 'n huurhuis wat glo "nie meer beskikbaar" was nie. Volgens haar het sy lont geruik toe iemand 'n WhatsApp-boodskap op Facebook geplaas het waarin die eiendomsagent 'n vriend nader vir geld.
Volgens die boodskap het hy dringend geld nodig omdat hy 'n kliënt se geld gebruik het en bang is hy gaan tronk toe as hy nie die geld terugbetaal nie. Volgens die vrou moes sy skarrel om nog R8 500 te bekom om 'n huis direk by die eienaar te huur.
Die WhatsApp-boodskap wat op Facebook geplaas is waarin die agent iemand nader vir geld en 'n boodskap van 'n verhuurder wat hom in kennis stel dat hy nie langer as verhuringsagent gebruik gaan word nie.
Geleende geld
Nog twee mense het bevestig dat die agent onderskeidelik R1 000 en R1 500 by hulle geleen het omdat hy glo opgesluit sou word as hy nie geld wat hy van kliënte gebruik het terugbetaal nie.
Sy beloftes om die geld binne drie dae terug te betaal is nie nagekom nie.
Nadat 'n kort berig Woensdag op die Oudtshoorn Courant se Facebookblad en webtuiste verskyn het, het verskeie mense die koerant gekontak met nog stories van geld wat hulle verloor het.
Een verhuurder het nadat sy 'n sms van die munispaliteit ontvang het, besef die dienstegeld wat haar huurders die afgelope vier maande goedertrou in die agent se rekening inbetaal het, is nooit by die munisipaliteit inbetaal nie.
"Ek moes inderhaas byna R7 000 gaan betaal om te keer dat die huis se krag en water afgesny word. Volgens haar sukkel sy ook gereeld om die huurgeld uit die agent te kry. "Dit is vir my ontstellend dat mense wat hard werk en stiptelik betaal deur iemand soos hy ingeloop word."
Dit is op hierdie stadium nie duidelik of nog ander sake by die polisie aangemeld is nie. Die identiteit van die eiendomsagent is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar kan eers bekendgemaak word nadat die persoon in die hof verskyn en amptelik aangekla is.
(Mense wat inligting het of met soortgelyke transaksies geld kwyt is kan die Oudtshoon Courant by 044 272 8918 skakel en die inligting vertroulik aan Hannes Visser gee.)
Lees 'n vorige artikel: Eiendomsagent ondersoek oor bedrog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'