OUDTSHOORN NUUS - 'n Eiendomsagent van Oudtshoorn, wat na bewering huurdeposito’s en huurgeld in sy eie sak gesteek het, word deur die polisie ondersoek vir bedrog en diefstal.
Volgens kapt. Louis Visser en sers. Gretchen Michaels, woordvoerders van die Oudtshoorn-polisie, word 'n klag van diefstal en twee klagte van bedrog ondersoek.
Die diefstalklag spruit voort uit 'n voorval waar die verdagte op 18 Maart versuim het om huurgeld aan die klaagster oor te betaal. Die eerste klag van bedrog hou verband met R14 000 wat in Februarie aan die verdagte betaal is vir die huur van 'n huis, maar die huis is glo nie beskikbaar gemaak nie.
Die tweede klag van bedrog is deur nog 'n klaer op 6 Maart gelê nadat 'n kontantdeposito ook vir 'n huurhuis betaal is, maar die verhuurder nie kon intrek nie.
Die identiteit van die eiendomsagent is aan die Oudtshoorn Courant bekend, maar kan eers bekendgemaak word nadat die persoon in die hof verskyn en amptelik aangekla is. Die Oudtshoorn Courant het die afgelope week met verskeie mense gepraat wat glo stelle met die eiendomsagent afgetrap het.
Volgens die eienaar van die agentskap waar die man tot Februarie verlede jaar gewerk het, werk hy nou as onafhanklike eiendomsagent en het sy nie insae in ooreenkomste wat hy met mense aangaan nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'