OUDTSHOORN NUUS - 'n Klag van "lyding van 'n dier veroorsaak in onvoldoende toestande", is Woensdag gelê na twee honde by 'n werkershuis in die Buffelsdrift-omgewing weggeneem is. Lee-Ann van Sittert, 'n lid van Animal Care Team SA (ACTSA) het reageer op 'n klag dat 'n veghond en 'n jong hondjie, wat vermoedelik ook 'n veghond is, verhonger en verwaarloos is.
Sy het Woensdag met polisiebegeleiding, die twee honde by die plaaswerkershuis verwyder. Albei honde was uitgeteer en die ouer een het verskeie letsels van bytmerke op sy gesig gehad.
Daar was geen kos of water vir die diere op die perseel nie.
Een van die mans het aggressief geraak toe die honde verwyder word, en met 'n kapmes in Van Sittert se rigting gehardloop.
Van Sittert sê die veghondjie is tans op 'n drup by die veearts omdat hy baie swak is as gevolg van bosluiskoors.
"Die veearts sê as ons die hondjie 'n dag later gevat het was hy dood. Mense raak kwaad as ons die honde verwyder, maar hulle besef nie eens die diere is siek nie."
Daar was geen kos of water vir die diere op die perseel nie. Foto's: Liezl van Niekerk
Van Sittert sê toe hulle die honde in die bakkie sit was hulle so honger dat albei omtrent heeltemal in die kossakke ingeklim het.
"Ons doel is nie om moedswillig te wees nie, maar iewers moet mense begin verantwoordelikheid neem vir hulle diere. Dit is nie reg om diere aan te hou en hulle vir dae nie te voer nie en water te gee nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'