OUDTSHOORN NUUS - Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, was Vrydag 4 April in gesprek met Mia Spies van Netwerk24 by die KKNK.
McKenzie is verwelkom deur die Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, onderburgemeester, Zoë TyaTya, speaker Suzane Jansen en die KKNK uitvoerende hoof en artistieke uitvoerende direkteur, Hugo Theart. Hy is met luide applous deur aanhangers en feesgangers verwelkom.
Gesteelde kuns
McKenzie en Spies het verskeie punte aangeraak rakende die kunste waaronder miljoene rande se skilderye wat Pierneefs en Picasso's insluit en wat aan Suid-Afrika behoort, net eenvoudig weg is. McKenzie is op ’n missie om elke kunswerk op te spoor en terug te bring huis toe. Dit het aan die lig gekom nadat ’n vraag gevra is hoe hy dit reggekry het om geld te bewillig in die begroting vir kunste.
“Die begroting is nie gesny nie, maar hy het ook nie gegroei nie. Die probleem met die kunste is dat ons nie genoeg geld het nie en dat die geld gesteel word.” Hy het uitgewys dat die land se goed in die verlede verkoop is, soos die Pierneefs en Picasso's.
“Vandag is daar geen verantwoording hiervoor nie en het ek geld in my begroting opsygesit vir ’n deeglike ondersoek om elke verlore skildery op te spoor. Groot koppe gaan val want die man in die straat kan nie sulke kunswerke steel nie, dit is mense wat toegang gehad het.”
Mackenzie het verduidelik dat hy nie die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) goedkeur nie weens ’n tekort van blanke aanstellings. “Wat gaan van Afrikaans word as daar nie mense wat Afrikaans praat op die Taalraad sit nie?” Volgens hom sal die land nie regkom indien ons nie saamwerk en van kleur vergeet nie.
KKNK
Die KKNK word as ’n rolmodel gesien vir ander feeste met ’n ekonomiese inspuiting van ongeveer R60 miljoen vir Oudtshoorn en R150 miljoen vir die groter Oudtshoorn omgewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’