OUDTSHOORN NUUS - Die 29ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het op 6 April tot 'n einde geloop en het alle verwagtinge oortref.
Volgens Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, was vanjaar se bywoning uitstekend, nie net in die teaters en by die Feesmark nie, maar ook by die gratis aktiwiteite wat in Baron van Reedestraat aangebied is.
"Wanneer daar na die statistieke van die afgelope jare gekyk word, staan vanjaar se KKNK uit en vergelyk dit met van die beste feeste van die afgelope dekade voor Covid-19," sê Theart.
"Ons is dankbaar en trots op wat hierdie jaar vermag is en glo die fondament is gelê vir 'n volhoubare KKNK vir komende jare."
Die program het feesgangers getrakteer op 'n verskeidenheid produksies wat die belofte van "al die ietse, vir elke iemand" gestand doen – van toneel en dans tot musiek, kinderteater, visuele kuns en gesprekke.
Een van die visuele hoogtepunte was die kunsprogram Diepe Grond, wat verskeie genres van kontemporêre visuele kuns ingesluit het en reeds op die eerste dag vir baie gesprekke gesorg het.
Die fees is vanjaar moontlik gemaak danksy hoofborg Absa, met verdere ondersteuning deur die Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF), NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
"Ons is verheug oor die positiewe terugvoer van gehore oor die artistieke gehalte van die produksies. Die KKNK se strategiese koers ná die pandemie toon duidelik vrugte," sê Theart.
"Beplanning vir die 30ste viering in 2025 is reeds aan die gang, en ons nooi feesgangers om weer saam met ons te kom vier van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April 2026."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’