OUDTSHOORN NUUS - Vier kinders was waarskynlik die helde van die dag na hulle vinnige optrede toe 'n brand verlede Vrydag in die rivier tussen Klein-Karoo- en Loopstraat uitgebreek het.
Marius Griebenouw (11), Kari Griffioen (10), Louise Krause en Altus Kruger (beide 13 jaar oud), het in die rivierloop tussen die riete gespeel toe hulle van die brand agter hulle bewus raak.
"Dit het geklink soos geweerskote en toe ons omdraai toe sien ons die vlamme. Ons het tot by die naaste huis gehardloop en die oom gevra om die brandweer te bel. Ons het teruggegaan en die vlamme met emmers water en sand probeer blus tot die brandweer kom," het Kari vertel.
Marius sê hy het toevallig Vrydag in die klas geleer wat om te doen as daar 'n brand uitbreek.
"Ons het geleer wat alles vure blus en ook om jou hemp oor jou neus te trek sodat die rook nie in jou longe gaan nie," het hy trots vertel.
Die brand het vermoedelik in die riete begin en inwoners van Loopstraat en Klein-Karoostraat het staan en toekyk hoe die brand tussen die riete en die bome versprei.
Die brandweer was vinnig op die toneel en het die brand gou geblus voor dit na die huise en nabygeleë gastehuise kon versprei. Hout en boumateriaal op een van die erwe waar bouwerk tans aan die gang is, het begin brand, maar is betyds geblus.
Die kinders wat gehelp het is, van links: Kari Griffioen, Marius Griebenow, Louis Krause en Altus Kruger. Saam met hulle is Mornay Thysse van die munisipale brandweer. Foto: Hannes Visser
Die brand het in die riete ontstaan en na die bome versprei. Foto's: Liezl van Niekerk
Die brandweer is Vrydagaand terug na die toneel toe nadat boomstompe weer begin gloei het en inwoners bang was dat die brand weer sou opvlam.
Dit is nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.
Lees 'n vorige artikel: Flink kinders keer brand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'