OUDTSHOORN NUUS - Met skaars twee weke tot Kersdag het kinders oor die hele streek reeds hulle eerste smakie van Kersfees gehad.
Dit te danke aan verskeie organisasies in die gemeenskap wat elke jaar hard werk, skenkings kry, pakkies opmaak en besoeke beplan om kinderharte vir 'n dag kleur te gee.
Twee van die organisasies wat elke jaar groot vreugde na hoofsaaklik minderbevoorregte gemeen-skappe se kinders bring is die St Luigi Scrosoppie-sorgsentrum in Bridgton en die Oudtshoorn Rotariërs wat elk op hulle eie manier Kersfees spesiaal maak.
St Luigi Scrosoppi se 17de Kerspartytjie
Met hul 17de Kerspartytjie vir kinders van Bridgton het die St Luigi Scrosoppi-sorgsentrum in Wolfweg, Bridgton, op 5 Desember geskenke aan 1 112 kinders oorhandig. Die middag is begin met 'n optrede deur die plaaslike musikant Danny B en daarna het lede van Scrosoppi se jeugsentrums 'n Kersspel in die amfiteater aangebied.
Vader Leon Mostert, direkteur van die sorgsentrum, het gereeld die vordering van Sinterklaas se aantog met die kinders gedeel, totdat hy uiteindelik op 'n bloedrooi brandweerwa aangekom het.
Sinterklaas het stelling ingeneem en elk van die 1 112 geskenke persoonlik aan die kinders oorhandig. Elkeen het ook iets te ete ontvang voordat hulle huis toe is.
Die St Luigi Scrosoppi-sorgsentrum in Wolfweg is deel van die Rooms Katolieke Kerk en maak jaarliks 'n groot verskil in die gemeenskap. Die sentrum bestaan uit vier afdelings: Huis Betanië-kleuterskool, Huis Luigi-kindernasorg, Huis Flip- en Huis Veronica-jeugsentrums vir seuns en dogters en Huis van Barmhartigheid vir bejaardesorg.
Volgens Mostert word die sorgsentrum in sy geheel uit eie fondse en met skenkings en die hulp van vrywilligers befonds en bestuur. Mostert sê hulle is uiters dankbaar vir elke skenking en elke vrywilliger wat ook inspring om te help aangesien die sorgsentrum oor min personeellede beskik.
Die Rotariërs het verskeie projekte, maar fokus op twee kleuterskole
Soos verlede jaar het Kersvader Dinsdag 9 Desember weer op sy motorfiets by Nomonde-kleuterskool in Bongolethu opgedaag om geskenke uit te deel. Nomonde is een van twee kleuterskole wat deur Oudtshoorn Rotariërs onder hulle vlerk geneem is. Die Rotariërs is reeds jare by Nomonde betrokke en het verbeteringe en opknappings van honderde duisende rande aan die die skoolgeboue en perseel aangebring. Die skool wat van 'n subsidie van die departement van maatskaplike ontwikkeling afhanklik is, is reeds 10 jaar op die huidige perseel en het 56 kleuters. Die ander kleuterskool waar die Rotariërs ook betrokke is met gereelde besoeke, opknappings en skenkings is Pierewiet-kleuterskool in Volmoed. Kleuters daar het op Vrydag 5 Desember hul verrassings van Kersvader ontvang.
Buiten dié twee kleuterskole het Oudtshoorn Rotariërs die afgelope twee weke ook 16 ander kleuterskole besoek en 700 Kerspakkies en 750 handgemaakte beertjies uitgedeel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’