KLEIN KAROO NUUS - Daar is heerlik makietie gehou Saterdagaand by Lategansvlei se jaarlikse Kerspartytjie wat vanjaar deur Spek Bos Trust gereël is. Vanjaar was ook die negende keer dat dit aangebied is.
Bykans 140 mense het opgedaag wat ook tien gaste vanaf Duitsland ingesluit het. Die organisering van dié Kersete en -partytjie het harde werk gekos en veral die Lategansvlei-vroue; Luzet Reuter, Lara Meyer, Vreda Lategan en Carmen Urbanski het omtrent gewoeker om hierdie spesiale dag 'n sukses te maak.
Julia le Roux, speaker van die Oudtshoorn-munisipaliteit was die gasspreker en het in haar toespraak almal 'n geseënde Kersfees toegewens.
Die program van die aand het afgeskop met tradisionele Kersliedere waar elke gas kon saam sing. Lategansvlei se koor het ook 'n paar items gelewer. Onder die Kersboom was daar 'n Kersgeskenk vir elke gas.
Terwyl die gaste aangesit het vir hul ete het daar 'n lekker Kersfees-rolprent vir die kinders op die groot skerm gespeel.
Dario Urbanski (links) oorhandig geskenke aan 'n kinder van Lategansvlei. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'