Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Konfrontasie tussen drie mans van Blomnek buite De Rust en 'n winkeleienaar het tot die dood van een van die mans gelei.
Volgens inwoners naby die winkel was daar 'n argument tussen die mans en die winkelier.
Tydens die argument is die winkelier met 'n mes gesteek. Hy het glo sy aanvaller se kapmes afgeneem en die persoon teen die nek gekap. Die man is minute later oorkant die winkel op 'n oop stuk grond dood.
Inwoners het voertuie van die winkeleienaar met klippe bestook en polisievoertuie wat by die toneel aangekom het is ook beskadig.
Met die aankoms van Oudtshoorn Courant was die liggaam reeds weggeneem en mense was besig om arms vol voorraad uit die winkel te dra.
Die winkeleienaar het by die De Rust-polisiestasie aan Oudtshoorn Courant gesê die polisie is vroeër vandag ontbied nadat 'n persoon oproerig geraak het. Die persoon het later glo met nog twee mans teruggekeer. Hulle was glo met kapmesse gewapen. Die winkeleienaar is met een van die messe gewond. Hy het daarin geslaag om een kapmes af te neem en het homself glo daarmee verdedig.
Hy het gesê hy het een van mans met die mes gekap waarna die man by die winkel uit is en oorkant die straat in mekaar gesak het.
Die polisie het nog nie n amptelike verklaring oor die voorval uitgereik nie.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'