OUDTSHOORN NUUS - Katterjakkertjies-kleuterskool in Smartie Town, Oudtshoorn, is die afgelope paar maande al ses keer deur inbrekers geteiken.
Volgens die skoolhoof, Katy le Roux, gaan die voorvalle gepaard met ernstige vandalisme en het sy onlangs weer 'n saak by die Bridgton-polisie aanhangig gemaak.
Tydens die mees onlangse inbraak is kruideniersware, toiletware, 'n bril, kooktoestelle en gereedskap gesteel. "Ek is moedeloos en oorweeg dit om my pos te verlaat," sê Le Roux.
Sy beklemtoon dat diefstal van opvoedkundige materiaal en kos 'n direkte impak op leer en voeding het.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het bevestig dat ses inbrake sedert Julie by die skool aangemeld is. Twee verdagtes is reeds in hegtenis geneem, en ondersoeke duur voort.
Inwoners wat voel hulle wil bydra om die skool te help kan Le Roux kontak by 060 4488 660.
Volgens Bronagh Hamond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), is Vroeë-kinderontwikkelingfasiliteite (VKO) onafhanklike instellings, dus ontvang hulle nie die sekuriteitsubsidies nie.
"Hoewel VKO's aan sekere regulasies en verordeninge moet voldoen om 'n subsidie (nie vir sekuriteit nie) van die WKOD te kry (soos salarisse), behoort hulle nie aan die WKOD nie."
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’