OUDTSHOORN NUUS - "Moenie toelaat dat jou herkoms jou terughou nie, glo in jouself en jou drome." Hierdie woorde kom van 'n jong meisie uit die Karoo wie se deursettingsvermoë en passie haar gehelp het om 'n suksesvolle loopbaan in die gasvryheidsbedryf op te bou, sowel plaaslik as in Florida, VSA.
Rénay Mac Gear (33), oorspronklik van Willowmore, het van jongs af 'n hegte band met Gerrie Ferreira en sy gasteplaas, Chandelier, opgebou. Ná haar skoolloopbaan het sy besluit om haar liefde vir mense én haar droom om die wêreld te sien, te volg.
"In Oktober 2017, toe ek 23 was, het ek vir die eerste keer oorsee gegaan toe ek deur Work Away 'n pos in Florida bekom het. Ek het onmiddellik besef dat ek my passie vir mense in die gasvryheidsbedryf kan uitleef. Ek is mal oor mense en geniet dit om met toeriste te werk," vertel sy.
Toe die Covid-19-pandemie die VSA tref, moes sy besluit of sy na Suid-Afrika sou terugkeer. Sy het egter gekies om aan te bly en het intussen op Block Island as 'n kelnerin op die strand gewerk.
Ná drie jaar in die buiteland het sy teruggekeer na die Klein-Karoo en Oudtshoorn, waar haar ma, Monica, as onderwyseres by PJ Badenhorst Primêr werksaam is. Sedertdien het haar loopbaan 'n unieke ritme aangeneem: sy werk nou al tien jaar seisoenaal in Florida, ses maande daar en ses maande in Suid-Afrika, waar sy telkens by Chandelier inspring.
Haar liefde vir die bedryf het haar uiteindelik laat besluit om haar CV na Chandelier in te stuur. Sy is onmiddellik aangestel, nie net omdat die Ferreira-familie haar goed ken nie, maar ook weens haar ervaring, passie en toewyding. Chandelier het vir haar 'n tuiste geword wanneer sy in Suid-Afrika is, en die werksooreenkoms pas beide partye uitstekend.
Gerrie Ferreira beskryf haar as 'n besondere aanwins vir die onderneming.
"Rénay het 'n ongelooflike manier met gaste. Haar talent en toewyding maak 'n groot verskil wanneer sy hier is, veral met ons oorsese besoekers. Sy verstaan hul behoeftes en ons ontvang konstant positiewe terugvoer oor haar. Vir ons is sy werklik 'n waardevolle bate."
Rénay sê haar tyd in Amerika is uitdagend maar opwindend.
"Ek sal dit vir niks verruil nie. Dit is vir my 'n groot seën dat ek, wanneer ek in Suid-Afrika is, weer die rustigheid van die Karoo en die natuur tussen wild kan ervaar."
Sy moedig jongmense aan om hul drome met selfvertroue na te jaag.
"Die wêreld is 'n groot leerskool. As jy hard werk, passievol is en nie bang is om kanse te gryp nie, kan jy vir jouself 'n toekoms skep, waar jy jou ook bevind."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’