OUDTSHOORN NUUS - Die waarnemende bevelvoerder van die Attaqua-honde-eenheid in Oudtshoorn, kapt. Thinus Eloff, is steeds in 'n kritieke toestand in die Mediclinic George na hy die afgelope naweek deur 'n bakkie by 'n padblokkade op die Willowmore-pad getref is.
Albei sy bene is in die ongeluk gebreek. Eloff is ook 'n bekende in fietsrykringe op Oudtshoorn en 'n kranige tennisspeler.
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant bekom het, het Eloff en 'n ander polisiebeampte Saterdagaand 'n voertuig op die Willowmore-pad tydens 'n roetine padblokkade deursoek. Eloff was glo besig om die kattebak van die motor te deursoek toe die bakkie hom van agter getref het. Die motor wat hy deursoek het, is glo deur die slag 'n paar meter vorentoe gestamp en Eloff het onder die bakkie beland.
Volgens Eloff se vrou, Beadri, moes dokters Saterdagaand noodoperasies op sy bene uitvoer.
"Die dokters is veral bekommerd oor sy linkerbeen. Dit is die ergste in die ongeluk beskadig. Hulle moes die are heg en hy het baie bloed verloor. Hy het ook sy kop gestamp, maar die skandering wys geen skade nie."
Beadri sê dit is vir haar vreeslik sleg dat sy nie op die stadium by hom kan wees nie.
"As gevolg van die inperking word besoekers nie by die hospitaal toegelaat het. Ek kon hom wel kort na die ongeluk vir 'n rukkie sien, maar ek kan nie juis met hom praat nie omdat hy onder geweldige sterk medikasie is. Hy kan nie onthou wat in die ongeluk gebeur het nie."
Volgens haar is die ondersteuning, wat sy by mense wat van die ongeluk gehoor het, ongelooflik.
"Die bystand en gebede van vriende en kollegas van ons albei help ons om staande te bly. Ons is dankbaar vir die dokters, verpleegpersoneel en paramedesie vir die geduld waarmee hulle met ons praat."
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het die week gesê dat een persoon vir roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem is. Die Willowmore-polisie ondersoek die saak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'