OUDTSHOORN NUUS - Polisiebeamptes verbonde aan die Ladismith-polisiestasie het Dinsdag afskeid geneem van kapt. Henry Edwardes (60), hoof van sigbare polisiëring, na 'n dienstermyn van 41 jaar.
Edwardes het op 1 Desember 1982 diens aanvaar by die De Doorns-polisiestasie. Hy het uiteindelik op 11 Februarie 1993 by die Ladismith-polisiestasie begin werk en is op 1 Mei 2009 as hoof van sigbare polisiëring aangewys. Hy het die pos die laaste 15 jaar beklee.
Hy het definitief sy stempel in teenmisdaadoperasies afgedruk en het hy deur sy voorbeeld gelei. Hy het saam met sy kollegas, en veral ao. Jannie Cederas, 'n polisiespan saamgetrek wat aan stapwedlope begin deelneem het.
Lt.kol. Pauline Kriel, Ladismith-stasiebevelvoerder saam met kaptein Henry Edwardes, sy vrou Helena en seun Rudy. Foto's: Deon Meyer
So het hierdie span oOk die bekende polisieman van Oudtshoorn, ao. Brian Daniels, ondersteun tydens sy staptog, Walk for a Dream, waar Daniels fondse vir die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ingesamel het.
Edwardes se kollegas het dit duidelik tydens kort toesprake laat blyk dat hulle groot agting vir hom as mens gehad het en dat die persoon wat in sy plek sou kom, letterlik en figuurlik groot skoene het om vol te staan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’