OUDTSHOORN NUUS - Kansa Oudtshoorn-tak het Dinsdag eetgoed vir die verpleegpersoneel wat in die Covid-eenheid werk afgelewer.
Volgens Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van Kansa, was dit bloot hulle manier om die personeel te bedank vir die onbaatsugtige diens wat hulle sonder ophou aan almal lewer.
Volgens Adri het hulle skenkings vir kos van Kango Dierekliniek, die Cat Hotel, Cango Pizza en Nostalgie gekry.
"Ons weet hoe swaar hospitale tans kry weens die pandemie, en hierdie is bloot ons manier om die personeel te bedank omdat hulle nie opgee nie."
"Die personeel is moeg en soms is hul moraal laag, maar dan gebeur mooi goed soos vandag uit ons gemeenskap en dan gee dit hulle weer bietjie moed en krag om die laaste stukkie aan te pak," sê Sr. Helen Human, adjunk-direkteur: verpleegkunde.
Volgens haar werk die verpleërs 12 uur skofte in uiters moeilike omstandighede, maar probeer hulle steeds hul bes om elkeen tot die beste van hul vermoë te help.
"Ons by die Oudtshoorn-hospitaal bedank elkeen wat vandag bygedra het tot die groot bederf."
Tweede van regs staan Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder, saam met personeel van die Oudtshoorn-hospitaal en mense wat kos geskenk het. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'