Breaking News
KANNALAND NUUSFLITS - 'n Icosa-raadslid van die Kannaland-munisipaliteit, Werner Meshoa, is vanoggend deur lede van die Valke op 'n klag van bedrog in hegtenis geneem.
Volgens Dawid Kamfer, Icosa se nasionale woordvoerder en provinsiale leier, het Meshoa homself by die Ladismith-polisiestasie oorhandig toe hy uitgevind het dat daar 'n lasbrief vir sy arrestasie is.
"Werner het vandag in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die klagte hou verband met brandstofgelde wat hy glo nie terug betaal het nie.
"Die voorval het in 2016 reeds gebeur en die bedrag is ongeveer R2 000.
"Volgens die klag het die munisipaliteit vir Werner kos- en brandstofgeld gegee om 'n vergadering in Kaapstad by te woon. Hy het die brandstof reeds in Kannaland in gegooi, maar onderweg na die vergadering het sy voertuig gebreek.
"Hy is noodgedwonge terug Ladismith toe en het aan die munisipaliteit die geld vir die kos terug gegee omdat hy dit nie gebruik het nie.
"Die brandstofgeld het hy reeds gebruik," het Kamfer verduidelik.
Volgens hom beskou Icosa die aksie as polities gedrewe.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die woordvoerder van die Valke gestuur, maar het nog nie terugvoer ontvang nie.
Die Courant het in Oktober verlede jaar berig dat die Valke op die Kannaland-munisipaliteit en Icosa se kantore toegeslaan het.
Volgens die berig het kaptein Lloyd Ramovha, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Valke, bevestig dat hulle Dinsdag, 17 Oktober by die vermelde instansies toegeslaan het.
“Geen arrestasies is uitgevoer nie. Ons het wel sekere items, soos rekenaars, gekonfiskeer,” het hy gesê.
Ramovha het ook gesê die beslaglegging was deel van ‘n bedrog-ondersoek.
Daar kan egter nog nie bevestig word of Meshoa se arrestasie vanoggend met die ondersoek van verlede jaar verband hou nie.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'