KAROO NUUS - Die Kannaland-polisiegroep wat Ladismith- en Calitzdorp-polisie insluit, het verlede week saam met verteenwoordigers asook inspekteurs van die drankraad, Kannaland-munisipaliteit en buurtwaglede, vrugtevolle samesprekings op die spog wynlandgoed Oaksrest, buite Ladismith gevoer.
Die hoofdoel van die indaba was om vas te stel watter impak drankplekke soos tavernes, nagklubs asook ongelisensieerde drankplekke op die gewone inwoner van die streek het. Smokkelhandel in drank is ook onder die loep geneem.
Daar is veral klem gelê op die feit dat wettige dranklisensiehouers bewustelik drank aan smokkelaars verkoop, wat dit op hul beurt weer onwettig na-ure verkoop.
Lede van die publiek is gevra om foto's te neem waar sodanige smokkelhandel plaasvind sodat die lisensie van die drankwinkeleienaar gekonfiskeer kan word.
'n Soortgelyke vergadering is in Oktober verlede jaar in Calitzdorp gehou waar 'n plaaslike aksiekomitee teen alkohol- en dwelmmisbruik (LDAC) onder leiding van die departement van sosiale ontwikkeling op die been gebring is en deur die kantoor van die burgemeester gedryf sou word.
Burgemeester Jeffrey Donson het 'n pleidooi tot die verteenwoordigers van die drankraad gerig dat daar strenger voorwaardes moet wees by die toekenning van dranklisensies.
Die toekoms van Kannaland is in die hande van sy leiers, rolspelers soos die polisie, kerke, skole, welsynsorganisasies en die raad het Donson onder luide applous gesê.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'