OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-polisie het op 25 Maart hulle plaaslike Junior Kommissaris-kompetisie se uitdunne gehou.
Hierdie projek, veiliger skole, is een van die SAPD se vlagskipprojekte, en is ingestel met die doel om jongmense by die stryd teen misdaad te betrek.
Die jeug word regoor Suid-Afrika die geleentheid gebied om 'n bydrae te lewer en 'n betekenisvolle rol te speel om 'n veilige en bevorderlike leeromgewing in skole te verseker.
Volgens ao. Leila Claasen word die kompetisie by al 21 polisiestasies in die Eden-distrik, deur die stasie self, aangebied. Leerders van Bridgton Sekondêr, Hoërskool Môrester, Fezekile Sekondêr, Hoërskool Protea en Aurial Kollege het aan die plaaslike kompetisie deelgeneem en vyf leerders is verkies in die onderskeie posisies.
Vyf plaaslike leerders is in die volgende kategorieë gekies:
- Vispol - Dinece Nortjé (Aerial Kollege)
- Ondersteuningshoof - Kylie Booysen (Bridgton Sekondêr)
- Speurhoof - Tersia Goliath (Hoërskool Protea)
- CIG - Xavier Abrahams (Hoërskool Protea)
- Junior stasiekommissaris - Jordan-Lee Jones (Bridgton)
"Hierdie leerders sal ambassadeurs vir hulle skole wees. Ons kry te doen met dwelms, swangerskappe, boelies en baie meer. Die jeug is meer geneig om na ander in hulle ouderdomsgroep te luister, daarom word hulle gekies om met ander jeug oor jeugmisdaadvoorkoming te praat.
Een leerder, wat uit dié 21 polisiestasies van die Eden-distrik gekies is sal dan die distrikskommissaris van die groep wees wat aan die provinsiale kompetisie sal deelneem," sê Claassen. Leerders sal dan vir die volgende twee jaar deel van hierdie projek wees.
Deelnemers het oor vier onderwerpe gepraat:
- Hoe kan jy ander jongmense beïnvloed om die wet te respekteer en 'n gehoorsame burger te wees?
- Is sosiale media voordelig vir die individu en die samelewing? Dink aan die voor- en nadele hiervan.
- Is groepsdruk voordelig vir ontwikkeling? Bespreek of dit 'n positiewe of negatiewe impak op gedrag het.
- Geslagsgebaseerde geweld is 'n sosio-kulturele probleem: watter kreatiewe oplossings sal jy implementeer om die aantal gevalle wat aangemeld word te verminder.
Die volgende persone het die beoordeling gedoen, brig. Susan Crafford, lt.kol.
T du Plessis (Vispol ondersteuning), kapt. A Stassen (CIMAC), konst. J Adams (Oudtshoorn-polisie junior groep), past. D Schutte (Spirituele intervention-voorsitter),
P Blaauw (voorsitter van Oudtshoorn se gemeenskapspolisiëringsforum).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’