DE RUST NUUS - Inwoners van De Rust is bekend daarvoor dat hulle gereeld nuwe dinge in die dorp aanpak. Hierdie keer is die "nuwe ding" 'n baie ou tradisie.
'n Groep inwoners het verlede week die dorp aan die tradisionele sportsoort, jukskei, bekendgestel.
Volgens Garth King, een van die inwoners, is die De Rust-jukskeiklub se baan verlede Saterdag, 26 September, ingewy.
Die klublede het die baan self op die terrein van die NG Kerk uitgelê. Volgens King het drie van hulle op Erfenisdag met die baan begin.
Ongeveer 30 mense het opgedaag om aan die eerste jukskei-geleentheid deel te neem, maar hulle moes eers inspring om die laaste afronding aan die bane te doen, vertel King. Die eerste skeie kon teen 13:30 darem in die sand plof.
Volgens King het inwoners van die dorp en selfs ondernemings van Oudtshoorn vrywillig bygedra om die baan 'n moontlikheid te maak.
Die De Rust-jukskeiklub is nog nie amptelik geregistreer nie, maar dit blyk dat die proses hierdie week afgehandel sal word.
Lorretha van der Sand wys haar tegniek.
Charles Ferreira wys hoe 'n skei gewerp word.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'