OUDTSHOORN NUUS - Stylvol, elegant en altyd prim and proper.
So het Pietie Mooney Saterdag sy suster, Magrieta Konstabel (78), alombekend as juffrou Marjorie, tydens haar begrafnisdiens in die Bridgton VGK beskryf.
Volgens Mooney was sy suster baie lief vir musiek en sang, die kunstige een van die gesin en vir wie die onderwys haar groot passie was.
Konstabel, 'n oudonderwyseres van Laerskool Saturnus, is op 13 Junie na 'n kort siekbed oorlede.
'n Familielid, René Spies, het Konstabel in haar huldeblyk beskryf as iemand wat die wêreld vierkantig in die oë gekyk het.
"Sy was 'n klein mens met 'n groot hart, 'n terggees, grapmaker, kunstig en 'n besondere tuisteskepper. Sy was 'n allemansvriend met 'n skerp sin vir humor."
Volgens Spies was hoede Konstabel se spesialiteit en haar drie kinders elkeen vir haar spesiaal.
Ds. André Boezak, het in sy boodskap aan die kinders gesê al dink hulle dat hulle nou niks het nie, het hulle tog baie om oor dankbaar te wees.
Volgens hom het Konstabel oor die vermoë beskik om mense maklik te laat lag. "Ons waardeer sulke mense so min," het hy bygevoeg.
Allan Spies, het tydens die huisdiens die belangrikheid van gesins- en familiebyeenkomste beklemtoon. "As almal nie wen nie het niemand gewen," was sy boodskap aan begrafnisgangers.
Konstabel het haar laerskoolopleiding aan Laerskool de Villiers ontvang en aan Hoërskool Môrester gematrikuleer. Daarna het sy haar as onderwyseres bekwaam en op Herold begin skoolhou.
Haar eggenoot het haar reeds geruime tyd gelede ontval en sy laat behalwe haar drie kinders, Leigh, Conray en Marielle, ook twee broers en 'n suster agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’