SPORTNUUS - Die skote het geklap en die ghongs het gesing toe 31 spanne op Saterdag, 19 November aan die jaarlikse ghongskiet van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) deelgeneem het. Die kompetisie is net buite De Rust op die plaas, Aangenaam, van Henry en Martie van der Westhuizen aangebied.
Ses bane is oor twee dae opgestel met vyf ghongs per baan. Die naaste ghong was op ‘n afstand van 150m en die verste op 335m opgestel.
Spanne se skietvernuf is getoets met moeilike skietposisies en stutte wat doelbewus nie altyd gemaklik was nie. Baanoffisiere van Mosselbaai, Riversdal, Albertinia en George het kom handjie bysit met die bane en het op die skietdag die bane beman.
Skuts van die Tuinroete, Klein-Karoo en Karoo het ingeskryf. Die oudste skut op die baan was ‘n veteraan van 82 jaar en die jongste skut 10 jaar oud. Die wind het deur die loop van die oggend opgetel, maar dit het nie die opwinding of die entoesiasme van die deelnemers gedemp nie. ‘n Ekstra ghong is op ‘n afstand van 660m opgestel. Twaalf skuts het ‘n kans gevat en na laasgenoemde ghong aangelê, maar net een skut, Jaco du Plessis, van Beaufort-Wes kon die ghong laat sing.
Die Jongspan het moles gemaak en stof in van die meer ervare spanne se oë geskop. Hulle moes die knie egter buig, want die vaardige Mafiaspan het hulle oortref en het met die louere weggestap. Hulle het die tweede plek net-net voor die AHS span weggeraap. Die wenspanne is vereer met medaljes, sertifikate en kontantpryse. Daar was ook verskeie geluktrekkings wat toerusting, toebehore en koopbewyse ingesluit het.
Die wenspanne was:
- Mafia (Johan Fourie, Niaan Fourie, Christo Delport en Hein de Swart)
- Jongspan (Jacques du Plooy, Darian du Plooy (10 jaar), Christoff Delport (14 jaar) en Izel Delport (12 jaar))
- AHS (Raynor Becker, Johan Delport, Danie Barnard en Deon van Tonder).
Die harde werk agter die skerms is nie misgekyk nie. SJB bedank almal wat van hierdie dag ‘n reuse sukses gemaak het. Hoewel dit die laaste aktiwiteit op die 2022 kalender was, is die bestuur reeds hard besig met beplanning en beloof dat 2023 propvol pret sal wees.
Hulle nooi enige belangstellende of die wat ‘n liefde het vir die sport om te gaan loer op hulle webwerf by www.suidkaapjagters.co.za of hulle telefonies te kontak by 044 695 2319.
Die Jongspan het tweede geëindig. Van links is: Jacques du Plooy, Izel Delport (12 jaar), Christoff Delport (14 jaar) en Darian du Plooy (10 jaar) en Marko Marais (Wildman George).
In die derde plek was die AHS-span. Van links is: Danie Barnard, Raynor Becker, Johan Delport, Deon van Tonder en Marko Marais (Wildman George).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'