Update
MURRAYSBURG NUUS - 'n Jong vroueboer van die Murraysburg streek is die enigste vrou onder die Wes-Kaap se vier finaliste in die jaarlikse Jongboer-kompetisie. Die wenner word op 23 Mei aangewys.
Die 25-jarige Juanita Bellingan boer sedert Januarie 2016 op Kruidfontein Landgoed in die Murraysburg-distrik van die Sentraal-Karoo. Die plaas van 20 000 ha is al 90 jaar in besit van die Herholdt-gesin, en tans behoort dit aan die vier seuns Carel, Ron, Michiel en De Villiers.
Sy boer met skape, sybokke, beeste en wild. Naas die Kruidfontein-merinostoet, wat uit sowat 250 ooie bestaan, word daar ook kommersiële ooie en sowat 4 000 skape, wat hamels insluit, elke agt maande geskeer. 'n Kudde van sowat 1 000 sybokhaar-kapaters word elke ses maande geskeer. Die beeskudde bestaan uit 150 Angus-Simentaller-kruisbeeskoeie.
Die wildkamp op die plaas beslaan 3 000 ha met 15 wildspesies. Plaaslike en buitelandse jagters jag van 1 April tot begin September. Daar word ook Damara-springbokke en trofeediere in 'n teelkamp gehou waar slegs boogjag toegelaat word.
Arbeid
Met verwysing na die nege voltydse mans- en twee vrouewerkers wat Bellingan bystaan en saam met die Herholdt-broers op die plaas grootgeword het, sê sy:
"Ek het uit die staanspoor besluit om net myself te wees en dat hulle my so sal aanvaar. As daar 'n probleem is, praat ons dit uit. Ek en hulle is eensgesind en werk saam as een span. Hulle het my aanvaar en respekteer my en ek vir hulle."
Volgens 'n ooreenkoms met die Herholdts mag die werkers lewenslank op die plaas bly.
Soggens 06:30 word daar eers boekegevat in die skuur. "Ek lees vir hulle 'n stukkie uit 'n Bybeldagboek en ons bid: ek sê dankie vir al die genades, want dit is 'n voorreg om hier te kan werk. Hierdie tydjie saam met my plaasmanne en die Here dra my deur die dag en bind ons saam – dit is 'n goeie fondament om die dag mee te begin."
Uitdagings
Die grootste uitdagings tans hier is die voortslepende droogte, ongediertes en veediefstal. "Maak nie saak hoe droog dit is nie, jy moet onder geen omstandighede jou plaas moet verkoop nie!"
"Boerdery is 'n manswêreld. Ek dink mans voel dalk geïntimideer omdat ek nie 'n man nodig het om vir my goed te doen nie. Dis nie dat ek dink ek is beter as hulle of dat ek meer weet nie, maar miskien weet hulle nie hoe om my te hanteer nie.
"Maar ek dink hulle respekteer my omdat ek vrou-alleen boer, al is daar nog so baie wat ek moet leer."
Haar rede om te boer is eenvoudig sê sy. "Ek hou daarvan om te sien ek maak 'n verskil: as 'n dier siek is, dokter ek hom en sien hoe hy gesond word."
Lees 'n vorige artikel: Jong vroueboer maak haar merk
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Klein Karoo nuus'