OUDTSHOORN NUUS - Familie, vriende en geliefdes het ’n laaste huldeblyk gebring aan Rowan Strydom (37) van Oudtshoorn tydens ’n stampvol roudiens in die Weyers Memorial Church.
Strydom is in Mei tragies in Phuket, Thailand, oorlede nadat hy van die balkon van sy woonstel op die sewende verdieping in ’n swembad geval het.
Hy was die seun van Meyer en Sandra Strydom en het sedert 2019 as onderwyser in Phuket gewerk.
Sy enigste broer, Riaan Strydom, het tydens die diens namens die familie hul opregte dank en waardering uitgespreek teenoor die personeel van die Suid-Afrikaanse ambassade in Thailand, die skool waar Rowan onderrig gegee het, asook die Phuket-polisie vir hul ondersteuning ná die tragedie.
Volgens hom het dié instansies uit hul pad gegaan om hom en sy moeder by te staan toe hulle na Thailand gereis het om Rowan se oorskot te gaan haal. Hy is later in Thailand veras.
Rowan was nog in April vanjaar met vakansie by sy familie in Oudtshoorn voordat hy na Phuket teruggekeer het. Kort daarna het die noodlottige voorval plaasgevind.
Ten spyte van die hartseer van die dag het Riaan ook die gemeente laat glimlag toe hy verskeie herinneringe en staaltjies oor sy broer gedeel het. Sy huldeblyk het ’n beeld geskets van ’n geliefde broer, seun en vriend wat ’n blywende indruk op die lewens van baie mense gemaak het.
Eerwaarde Arthur le Roux het in sy troosboodskap uit die boek Jeremia gepreek en gesê Rowan se lewe het geëindig “terwyl dit nog dag was”, maar dat sy familie en vriende nie moet treur as mense sonder hoop nie.
Hy het die familie aangemoedig om vas te hou aan die mooi herinneringe wat Rowan agterlaat en troos te vind in die liefde en ondersteuning van die gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’