OUDTSHOORN NUUS - Die musikant en akteur, Whaden Johannes, het Oudtshoorn twee jaar gelede sy tuiste gemaak toe hy aan Faren Esau verloof geraak het.
Sedertdien pendel hy tussen die Klein-Karoo en Kaapstad om sy brood as musiekonderwyser te verdien, maar ook om tot ander jong musikante se ontwikkeling by te dra.
Johannes vertel dat hy in 2014 'n oudisie vir ATKV-Crescendo afgelê het.
Die volgende jaar het hy 'n slypskool van die ATKV bygewoon en reeds in 2016 as hulporgniseerder van Crescendo betrokke geraak. Onder die Crescendo-sambreel is sy eerste musiekalbum in 2018 opgeneem en daar het sy eerste optredes ook begin.
In 2025 het hy Crescendo se jaarlikse GOUD-konsert vervaardig en die regie behartig.
Vanjaar is hy die kreatiewe regisseur van die GOUD-konsert en het hy ook saam met bekendes soos Petronel Baard as mentor opgetree met ATKV-Crescendo se jaarlikse mentorskapprogram. Hy was ook tydens die KKNK by die RSG-ATKV op die verhoog en het ATKV-werksessies in samewerking met die KKNK en WKOD aangebied.
Hy vertel dat 2026 'n besige jaar is, maar dat hy nie op hierdie stadium al die ape uit die mou kan laat nie. Johannes glo dat die kunste nodig is om mure af te breek en brûe te bou en sê: "Daar is nog baie mure rondom Oudtshoorn.
Ricardo Arendse se AK47-program is 'n goeie voorbeeld van die kunste na die mense toe bring. Dit help die jeug om verskillende kunsdissiplines te verstaan en toe pas. Al wat nodig is, is dat alle belanghebbendes om 'n tafel moet hande vat en hulle kennis en ervaring deel tot voordeel van die dorp."
Op die vraag hoe hy sy rol in Oudtshoorn sien om 'n bydrae tot die gemeenskap te maak, sê hy: "Ek het aan die Universiteit van Stellenbosch musiek studeer en ook by UCT 'n filmkursus voltooi en ook aan televisieproduksies gewerk. Ek het besef ek kan nie die kennis wat ek opgedoen het vir myself hou nie en deur die produksiemaatskappy wat ek en Faren gestig het, wil ons opleidingsgeleenthede vir Oudtshoorn se jongmense skep. Ons doel is om 'n sentrum op die been te bring waar ons kan fokus op musiek, kreatiewe skryfwerk en drama. 'n Veilige spasie vir almal, maak nie saak wat jou vlak van kennis is nie, maak nie saak hoe oud jy is nie, maak nie saak watter kleur jou vel is nie. Ons is ook beskikbaar om skole te help met musiekgroepe en produksies."
Mense wat meer inligting benodig of by projekte wil betrokke raak kan Whaden of Faren by 073 021 5272 kontak of e-pos stuur aan [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’