DYSSELSDORP NUUS - 'n Groep jong vrywilligers is tans hard aan die werk om die ACVV-dienssentrum se erf van 'n reusesandplot tot 'n tuin te omskep.
Volgens Charlton Botha, die stigter van Dysselsdorp Youth Development Centre (DYDC), het sowat 20 van hulle reeds op 15 Maart begin swoeg om klippe aan te ry en die tuin te verfraai.
"Die doel van ons projek is om die vooraansig van die sentrum met 'n pragtuin te verfraai en ook om die perseel skoon te hou," het hy Dinsdag gesê.
Daar is egter een uitdaging. Die groep hardwerkendes kort dringend geskikte vetplante, bome, kompos en tuingereedskap.
"Ons is 'n nie-winsgewende organisasie wat daadwerklik iets wil doen om die beeld van Dysselsdorp te verbeter, maar ons ontvang geen fondse van enige organisasie nie. Indien mense ons kan help met plante of enige ander benodighede of tweedehandse gereedskap sal dit regtig waardeer word en sal dit ons in staat stel om ander projekte ook aan te pak."
Volgens Botha het 'n stuk of 20 vrywilligers ywerig weggespring, en die getalle wissel van dag tot dag. Dinsdag was 13 van hulle hard aan die werk.
Mense wat die organisasie wil bystaan met plante of enige gereedskap kan Charlton Botha by 078 837 9764 kontak.
'n Bedding word oorkant die ingang van die dienssentrum gepak.
Een van die groot kaal stukke grond wat die vrywilligers hoop om in 'n tuin te omskep.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'